Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld
DAAR IS NIE HOOP VIR DIE TOEKOMS NIE
Net voor hierdie Skrifgedeelte stap twee manne na die dorpie Emmaus toe, omtrent twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle is depressief en moedeloos, want die Een wat hulle gehoop het die redder van die Jode gaan wees, is vermoor. Dis nou al drie dae later en nog niks het verder gebeur nie.
Om dinge te vererger, is daar vroue wat stories vertel dat Hy opgestaan het en lewe. Die twee manne het graf toe gegaan om self te sien wat aangaan. Hulle het net die doeke waarin die lyk toegedraai daar gekry. Hulle het Hom nie met ’n oog gesien nie. Nou het hulle sommer alle hoop verloor.
Hierdie kan net sowel jou storie of enigiemand wat jy ken se storie wees. Ons soek mos almal daardie iets wat ons kan krag gee om aan te hou. As rugby jou passie is, dan hoop jy dalk op ’n kaptein of ’n afrigter wat jou span weer kan oplig en laat wen. As jy bekommerd is oor die toekoms, dan hoop jy miskien op ’n nuwe politieke party. As jy stres oor jou finansies, dan hoop jy op ’n goeie werk. Dalk is jy met ’n siekte gediagnoseer en nou hoop jy op ’n dokter wat jou kan genees.
Ons het almal die een of ander “Messias” waaraan ons vashou. Ons wil graag hê dit moet beter gaan met ons. Maar, soos jy weet, werk dit nie altyd so uit nie en baiekeer word jy teleurgestel.
Dis waar die Emmaus-manne nou is – hulle is teleurgesteld dat hulle lewens as Jode nie reg uitgewerk het nie. Nou is die vraag: Is daar ’n manier hoe die mans van hooploos tot entoesiasties kan kom? Hoe verander jy ’n vrou met depressie na iemand wat vuur en vlam is vir die lewe? Die antwoord is: In die drie dae in die graf is daar vir almal ’n lewe van hoop losgemaak.
Die woordjie “ontstel” waarvan ’n mens lees in vers 22 is nogal interessant. Dis amper soos om ’n mens van balans af te gooi. Ek is seker jy het al nuus gekry wat jou ewewig versteur het. Die keer toe die dokter vir jou die slegte nuus gegee het, toe die bank gebel het, of toe die prokureur daardie brief gestuur het. Jy voel skoon duiselig en verward na so ’n tyding, want dit voel so onwerklik. Dieselfde woordjie word gebruik wanneer Maria by die graf kom en dis leeg. Sy was verstom oor wat gebeur het. Het jy geweet, elke dag gebeur daar iets in jou lewe wat jou ook kan verstom? Jy moet net die oë hê om dit raak te sien.
Ek is jammer om jou teleur te stel, maar daar is nie baie hoop in jóú storie nie. Jy kan hoe suksesvol wees, jy kan hóé goed wees in sport of baie geld hê, maar aan die einde van jou lewe gaan dit nie tel nie. Verlustig jou eerder in jou hemelse storie. Dit sal jou hoop gee, want Hy wil jou iewers gebruik; daar is iets wat net jy met jou spesiale persoonlikheid en talente kan doen. Hy sê eintlik vir jou: Jou storie is ’n bietjie gering, kom Ek nooi jou in My storie in. Hoe goed ken jy die storie? Hoe leef jy die storie? Hoeveel keer vertel jy die storie en deel jy dit met jou kinders en met ander mense?
Toe hulle later saam aan tafel sit, breek Jesus die brood en die dissipels herken Hom. Hulle harte juig van vreugde. Ons hardloop dikwels verby al die tafels wat vir ons gedek is en waar ons ook so ’n ervaring kan hê.
Dink ’n bietjie hoe voel jy in die oggend in spitsverkeer? Jy is gestres, want jy het ’n sperdatum om te haal, jou kinders is laat vir skool en daar is honderde motors in die vier bane voor jou. Jy sien nie die lig nie. Maar hier is eintlik vir jou ’n tafel gedek: Gebruik hierdie tydjie in die motor om met jou kinders te gesels. Alles sal oukei wees, want jy is nie alleen nie.
Baiekeer lyk die “tafel” dalk vir jou soos ’n tafel van seer of chaos. Soos wanneer jy en manlief baklei. Dan moet julle op ’n punt besluit om te kalmeer en te besef: Hierdie is ’n tafel wat vir ons gedek is. Kom ons kommunikeer eerlik en wys ons liefde vir mekaar. As jy die regte Een tafel toe nooi, sal julle heeltemal anders baklei. Dit sal amper voel asof die dominee saam met julle sit terwyl julle rusie maak!
Elke situasie word ’n tafel wat klaar vir jou gedek is: jou gesprek met die baas, die uur wat jy saam met ’n vriendin gaan koffie drink, die tydjie wat jy voor die stoof staan en kosmaak. As jy jou oë oophou, sal jy vir Jesus in daardie situasies herken en dit sal jou verstom. Jy sal hoop vind.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.
More
Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/