Perfek soos jy nou isVoorbeeld
Die bron van selfvertroue
Wat is die bron van jou selfvertroue? Is dit dalk jou voorkoms? Of hoe jy voel? Vir sommige mense gaan hulle selfvertroue hand aan hand met wat hulle bereik. Die meeste mense se selfvertroue is egter gegrond op wat ander mense van hulle dink.
Ek plaas gereeld ’n foto van myself op sosiale media en lees ’n paar uur later die kommentaar. Die eerste tien mense sê gewoonlik iets positiefs. Terwyl ek dit lees, kan ek voel hoe my “selfvertroue”-meter styg. Maar skielik daal dit skerp wanneer ek ’n negatiewe opmerking lees. Die foto wat ek geplaas het, het nie verander nie. Dit is nog presies dieselfde foto wat so pas my selfvertroue ’n hupstoot gegee het. Wat het dan verander? My persepsie van wat ander mense van my dink, het verander – as gevolg van een negatiewe opmerking. Het dit al met jou gebeur?
Moenie toelaat dat wat ander mense van jou dink jou selfvertroue beïnvloed nie. Jy is baie meer as jou selfie. Jou sukses word nie gemeet aan jou hoeveelheid Instagram-volgelinge of jou voorkoms nie. Hou op om jou onsekerheid te voed.
Onthou: God oordeel nie volgens uiterlike voorkoms nie; Hy kyk na die hart (1 Sam. 16:7). Dit is die heel belangrikste.
Aangaande hierdie leesplan
Rolene Strauss, voormalige Mej. SA en Mej. Wêreld, wil jóú help om te leer “nee” sê ... “Nee” vir almal wat sê jy is nie goed genoeg of mooi genoeg nie, “Nee” vir jouself wanneer jy jou vergelyk met ander en te krities is oor jouself. Gee jou selfvertroue ’n hupstoot in 14 dae saam met Rolene. Hierdie plan is saamgestel uit Rolene Strauss se dagboek VANUIT DIE HART.
More
Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Rolene Strauss bedank vir die verskaffing van hierdie plan. www.cumbooks.co.za/