Die reis van ’n pelgrim deur Ann GoodfellowVoorbeeld

Die reis van ’n pelgrim deur Ann Goodfellow

DAG 3 VAN 5

Bly by die waarheid – in liefde

Jesus het na die aarde gekom om ons te leer hoe om lief te hê. Sy opdrag: “Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê” ( Joh. 13:34), is dat ons lewe, soos sy eie, deur liefde gerig moet word. 

As dit ons begeerte is om soos Jesus te wees, moet ons leer om alle mense lief te hê. Namate ons meer soos Jesus raak, sal ons sy opdrag onder leiding van die Heilige Gees begin uitvoer.

Ons moet ander mense van die liefde van Jesus vertel en hulle aanmoedig om weg te draai van die wêreldse weë van gierigheid, haat, kritiek, hoogmoed en sonde. Ons kan nie diskrimineer teen mense van ’n ander nasionaliteit of ras nie; ons moet in liefde leef teenoor alle mense. 

Ons almal is gelyk in God se oë, en as volgelinge van Jesus, God se Seun, moet ons dieselfde medelye, liefde en goedheid teenoor alle mense openbaar. 

Ek of jy kan dalk oor ’n wonderlike vermoë op ’n sekere gebied beskik – soos leierskap, onderrig, spreekkuns of prediking, maar as ons te midde van al hierdie prestasies geen tyd daaraan bestee om na iemand anders om te sien nie, dan beteken ons bekwaamheid niks. Mense kan dalk dink ons is wonderlik, maar nie God nie.

God het ons almal in liefde geskep, en dit is wat Hy in die eerste plek wil hê ons moet wees, afgesien van alle ander prestasies wat Hy aan ons skenk. Liefde is die een gawe wat uitreik na almal; dit is ’n weerspieëling van God se liefde vir ons. 

Deur die geskenk van sy Seun, Jesus, het die mensdom die hoë standaard van liefde leer ken wat God stel. Betoon liefde teenoor almal, en op daardie wyse betoon jy eer aan God.

Gebed

Liewe Here, vul my hart met liefde en stel my in staat om ander lief te hê soos wat U hulle liefhet. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die reis van ’n pelgrim deur Ann Goodfellow

Die dagstukkies in hierdie 5-dag-leesplan sal jou aanmoedig om jou pad na die Here te vind, Sy hand te vat en om elke dag in vrymoedigheid te lewe. As jy na die Lig soek, sal jy met liefde verryk en met sekerheid vervul word. Elke dag bevat ’n Bybelvers, oordenking en kort gebed. Die inhoud van hierdie leesplan is gebaseer op Ann Goodfellow se “Die reis van ’n pelgrim”.

More

Ons wil graag Struik Christian Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.struikchristianmedia.co.za