Wat Behels Aanbidding?Voorbeeld

Wat Behels Aanbidding?

DAG 3 VAN 7

Ons aanbid d.m.v. musiek.

Aanbidding: God is nie beïndruk met die kwaliteit van ons stem nie, maar met die toestand van ons harte. — Chris Tomlin

Ons het genoem dat aanbidding nie soseer gaan oor dit wat ons doen nie, maar oor ons harte se ingesteldheid, wat deur God hoog geag word. Die plek waar God bo-aan iemand se prioriteitslys is.

Ons aanbid God die meeste van die tyd d.m.v. musiek. Dis te verstane. Ons kan in die kar, by die gimnasium en tuis, daarna luister. Musiek is inderdaad 'n gewilde manier om ons Skepper te aanbid.

Aanbidding is 'n Goddelike ontmoeting met ons God. Dit is beide 'n buitensporige uitdrukking en 'n ingetoë stilte. Dit is sang en dit is stilte. Dis om stil te wees en te weet dat Hy God is, en dis 'n viering met baniere en dans. Dit maak nie saak watter soort lied ons sing nie. Of dit nou musiek van die gewildste groep op die aanbiddingsplatform is, of 'n gesang wat in die 1700's geskryf is, die styl is nie van belang nie — die ingesteldheid van ons harte maak saak.

Wanneer ons 'n weeklikse aanbiddingsdiens bywoon, lig ons dalk ons hande hoog in die lug op. Of ons op 'n stil manier met toe oë aanbid. Of ons baie aktief of bedaard is, uitbundig of 'n gebrek daaraan, niks gee ons die reg om enigiets oor enigiemand anders te veronderstel nie. 'n Gebrek aan aksie is nie 'n bewys van 'n geestelike leemte nie, net soos uitbundigheid nie beteken dat iemand allerheilig is nie. As ons dade net uiterlik is, is dit nie aanbidding nie. Dis maar net 'n uiting.

Aanbidding gaan minder oor 'n opsigtelike uitdrukking en meer oor 'n innerlike ingesteldheid. 'n Houding waar geklemde hande oopgemaak word vir 'n God wat dit met sy onbegryplike vrede en liefde wil vul. Of ons ons hande oplig of op die grond neerval, ons aanbidding moet uit 'n ingesteldheid van ons harte kom, om God te prys.

Aanbidding is egter nie vir ons nie. As ons wonder hoe ons daarby gaan baat vind, sit ons die pot mis. Is dit vir ons voordelig om God te aanbid? Natuurlik. Ons ondervind dalk 'n vredevolle tyd of gaan deur 'n stormagtige tyd. En terwyl ons aanbid, vul 'n onverklaarbare rustigheid en hoop ons innerlike. Hierdie onverklaarbare rustigheid gebeur omdat aanbidding ons fokus van die tydelike na die ewige verskuif. Daar is nie voldoende woorde of mooi frases wat kan verduidelik wat aanbidding vir ons gees doen, wanneer ons elke dag bewondering en danksegging aan God offer nie, veral nie op daardie dae wat ons neerslagtig is nie.

Kom ons maak aanbidding deur middel van musiek deel van ons daaglikse roetine. Ons behoort ons vrye tyd te vul met liedere wat ons aanspoor om ons wonderlike God te aanbid. Hy is dit altyd waardig.

Nadenke

  • Lees Psalm 150 en verklaar dit aan jou God.
  • Wees vir 'n rukkie stil, of luister na 'n aanbiddingslied — wat jy ook al verkies. Aanbid God.
  • Skryf enige openbaring neer wat God vir jou sê deur vandag se Bybellees en oordenking.
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Wat Behels Aanbidding?

Ons harte neig na aanbidding. Ons, as volgelinge van Christus, is deur God geskape om Hom te aanbid. Ons neig egter om ons bewondering en getrouheid aan mense en dinge te gee, eerder as aan God. Kom saam met ons op hierdie reis en delf dieper in wat aanbidding is en hoe ons kan leer om 'n lewenswyse te leef wat God eerste plaas.

More

Hierdie oorspronklike Leesplan is geskep en verskaf deur YouVersion.