God se Woord vir jouVoorbeeld

God se Woord vir jou

DAG 4 VAN 7

Wees seker waarom jy glo

Dit is uiters noodsaaklik dat ons die Skrif moet ken en diep in die skatte van God se Woord moet delf. Maar dit was nooit God se bedoeling dat ons daardie kennis vir onsself moet hou nie. Ons moet die waarheid van God se Woord kan verdedig. Ek glo daar is ten minste ses redes waarom ons ons geloof moet kan verdedig.

Eerstens dra ’n beredeneerde geloof gewig. Dié wat nie die waarheid ken nie, maak staat op hulle emosies, tradisies en ander mense se menings — en nie een hiervan dra gewig nie.

Tweedens gee ’n beredeneerde geloof aan ons stabiliteit tydens beproewings. As ons weet wat God se Woord ons leer, sal ons nie ons geloof verloor wanneer die fondament van ons lewe geskud word nie. Ons kennis van die waarheid gee aan ons stabiliteit.

Derdens stel ’n beredeneerde geloof ons in staat om omsigtig met die Bybel om te gaan. Wanneer ons die algemene temas van die Skrif ken, kan ons op die Bybelse waarhede staatmaak eerder as om te sê wat ons dink ander mense wil hoor.

Vierdens sal ’n beredeneerde geloof ons toerus om verkeerde dinge te identifiseer en te konfronteer. Wanneer ’n Skrifgedeelte aan ons voorgelê word, het ons nie iemand anders nodig om dit vir ons uit te lê nie. Ons kan wanopvattings met Bybelse feite konfronteer.

Vyfdens gee ’n beredeneerde geloof aan ons selfvertroue. Kennis van die Skrif maak ons selfversekerd en standvastig in ons verhouding met Christus. Hoe beter ons Hom leer ken, hoe meer sekerheid kry ons in Hom.

Laastens filter ’n beredeneerde geloof ons vrese uit en vernietig bygelowe. Dit is belangrik, aangesien ons dikwels geteister word deur die versoeking om uit vrees in plaas van geloof te funksioneer.

DINK-TYD

Watter een van hierdie redes om ons geloof te verdedig vind die meeste aanklank by jou gedurende hierdie stadium van jou lewe? Kan jy aan ander redes dink waarom dit belangrik is vir ons om te verdedig waarin ons glo?

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

God se Woord vir jou

“Die Bybel is meer werd as alle ander boeke wat al ooit gedruk is” (Patrick Henry). Charles Swindoll wys jou hoe om die waarhede in dié belangrike Boek jou eie te maak en in jou lewe toe te pas. Jy sal daagliks geestelik verryk word wanneer jy leer om die ewige waarhede van die Woord te verstaan. Hierdie leesplan is saamgestel uit GOD SE WOORD VIR JOU.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://cumbooks.co.za