God se Woord vir jouVoorbeeld

God se Woord vir jou

DAG 5 VAN 7

’n Sterk greep

Een van die herhalende temas in Paulus se briewe aan Timoteus is om sy jong vriend te waarsku oor die moeilike tye wat in die laaste dae voorlê: “Jy moet ook dít weet, Timoteus, dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom” (2 Timoteus 3:1). Ten spyte van hierdie teenstand sien ons nie dat die apostel Paulus naels kou of angstig is terwyl hy wonder hoe hy dit deur hierdie tye gaan maak nie.

Inteendeel, hy weerlê die bedrieërs heel kalm — die misleiers wat die moeilikheid veroorsaak wat hy in die eerste paar verse noem. Hoe is dit dat Paulus so kalm kan bly? Omdat hy ’n besonderse kennis van die Skrif het. Hy weet waar hy staan. Sy siel is met God se wysheid gevoed.

Hoe kalm kan ons te midde van sulke onrusbarende tye bly? Paulus was kalm omdat hy geweet het waar hy staan. Trouens, Paulus bied hulp aan alle predikers van die evangelie deur sy woorde aan Timoteus: “As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ’n waardige dienaar van Christus Jesus.” Hy sê verder vir Timoteus dat hy iemand moet wees “wat gevoed word deur die boodskap van geloof en die ware leringe wat jy navolg” (1 Timoteus 4:6).

Is dit nie goeie raad nie? Op ’n manier is hierdie woorde ’n Goddelike posbeskrywing vir elke opregte prediker van die evangelie, hetsy in ’n amptelike hoedanigheid al dan nie. Ons moet onsself voortdurend uit God se Boek voed. Hoe langer ons God se werk doen, hoe meer moet ons gevoed word. Hoe groter die druk, hoe groter die probleme, hoe voller ons program word, hoe meer moet ons hierdie Boek verslind. Sodoende sal die waarheid ons gedagtes skerp hou en sal ons hierdie waarheid kan oordra — persoonlik, asook in die openbaar. Maar die belangrikste van alles is dat ons slegs dan in staat sal wees om dit uit te leef.

DINK-TYD

Kan jy aan ’n tyd dink toe jy deur die Woord van God gevoed is? Is daar iemand met wie jy ’n Skrifgedeelte kan deel om hom of haar te bemoedig?

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

God se Woord vir jou

“Die Bybel is meer werd as alle ander boeke wat al ooit gedruk is” (Patrick Henry). Charles Swindoll wys jou hoe om die waarhede in dié belangrike Boek jou eie te maak en in jou lewe toe te pas. Jy sal daagliks geestelik verryk word wanneer jy leer om die ewige waarhede van die Woord te verstaan. Hierdie leesplan is saamgestel uit GOD SE WOORD VIR JOU.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://cumbooks.co.za