IntegriteitVoorbeeld
Die tentakels van materialisme
Min mense ontkom aan die tentakels van materialisme. Min mense wíl regtig ontkom. Ryk en arm word deur hierdie wêreldgees meegesleur, word deur die sug na meer geld gedryf. Internasionaal, en natuurlik ook in Suid-Afrika, word politiek grootliks deur geld en die mag wat daarmee gepaardgaan, gedryf.
In dié verband is dit die moeite werd om ag te slaan op Paulus se woorde aan Timoteus: “Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom. Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor. Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis” (1 Tim. 6:6-11).
Geldgierigheid was nog altyd die oorsaak vir die grootste deel van onreg en boosheid in die wêreld, vandag waarskynlik meer as ooit tevore. Geen wonder nie dat dit een van die dinge is waaroor Paulus aan Timoteus skryf dat hy daarvan moet wegvlug. Let op dat hy nie net sê dat Timoteus dit moet weerstaan nie, maar dat hy daarvan moet wegvlug!
Hier sal dit help as ons onderskei tussen basiese behoeftes (“needs”) en begeertes (“greeds”). Materialisme en gierigheid kom veral na vore waar dit gaan om behoeftes en begeertes. Mense se gierigheid bereik selde ’n versadigingspunt. Wanneer is genoeg genoeg? Daar word altyd gesoek na iets nuwer, beter, groter, mooier, vinniger, duurder. ’n Griekse filosoof het eenmaal gesê gierigheid is soos om seewater te drink: Hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Toe daar vir ’n Amerikaanse miljardêr wat al met die een voet in die graf gestaan het, gevra is wanneer hy sal voel dat hy nou genoeg geld gemaak het, het hy geantwoord: “Just one dollar more … ”
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za