Vroue Van Die WoordVoorbeeld
Moenie bang wees nie (deur Annemarie Botes)
Daar is so baie dinge in die lewe wat ons as vroue bang maak. Ons is nie fisies sterk nie, dit maak ons kwesbaar. Ons is nie altyd finansieel onafhanklik nie, dit maak ons weerloos. Soms is ons alleen en moet ons keuses maak. Soms is jy in ’n verhouding waarin jy verniel word en jy weet om jouself te red, moet jy die verhouding verbreek. Ek voel bang as ek in die donker by die huis aankom.
Jesus help ons as ons Hom om hulp vra. Kyk maar hoeveel voorbeelde daar in die Bybel is waar mans en vroue Jesus gevra het om hulp, en Hy het hulle almal gehelp. Hy wag vir jou om te vra: “Help my, Here Jesus.” Hy wíl ons help! Hy gee vir ons riglyne uit die Bybel, Hy stuur mense op ons pad met wie ons die vrees kan deel en wat vir ons raad en hulp kan gee. Jy moet net vra!
As jy voortdurend bang is, maar nooit hulp vra nie, beteken dit dat jy God nie vertrou nie. Bang en bekommernis is dikwels groter en meer oorweldigend as vertroue in God. Lees die pragtige Psalm 121, daardie belofte dat die Here sal waghou oor jou: “Hy sal jou lewe bewaar, jou uitgaan en jou ingaan, nou en vir altyd.”
Wees vandag dapper en vra hulp. Die Here weet reeds wat jou grootste vrees is, jy moet net vra.
Dankie, Here, dat U my versterk en help en vashou. Dat U in alle omstandighede my hand vashou en my red. Help my om in alle omstandighede eers hulp te vra voordat ek bang word. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.
More
Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za