In Diens Van Jesus, in Diens Van AnderVoorbeeld
Leiers se vyf P’s
Ons leer vyf basiese konsepte van die aard van leierskap by Nehemia, wat ons kan gebruik om probleme prakties te hanteer sodat ons die omgewing vir die mense vir wie ons as leiers optree kan verbeter.
Heel eerste kry Nehemia ’n pyn. Ja, jy’t reg gehoor: ’n PYN. Die Here gee soms vir party mense ’n pyn – ’n las of vrag op jou skouers. Jy het die ware begeerte, behoefte en onmiskenbare gevoel dat dinge in verband hiermee móét verander. Nehemia leer ook vir ons ’n belangrik les: Ons moet met die Here oor daardie las gaan praat. Wanneer jy jou onbeholpenheid, jou onvermoë en jou afhanklikheid ten opsigte van hierdie kwessie aan Hom bely, sal Hy jou lei om dit te hanteer.
Nehemia leer ons dat die “pyn” opgevolg word deur ’n PRENTJIE. Ons kan dit ook ons VISIE noem. Dit vra ’n ware leier om ’n visie te sien van hoe dinge, mense en situasies beter kan wees. Ons moet egter altyd seker maak hierdie visie kom van God af.
Die derde eienskap van leierskap wat ons uit Nehemia se situasie leer, is om ’n PLAN in werking te stel. Dit is egter nie net planne op papier nie. Dis die uitvoer van daardie planne. Leiers is dié mense wat planne deurvoer. Maar dit gaan nie net oor dinge uitdink vir ander mense om te doen om die probleem op te los nie. En beslis ook nie om alles self te wil doen nie. Dit gaan oor die samewerking van ’n groep mense. Almal word betrek om sáám te werk om die doel te bereik. Jy deel God se visie en jy inspireer mense sodat dit ook hulle visie word.
Aansluitend by die eerste drie kenmerke leer Nehemia ons om PROBLEEMOPLOSSERS te wees. Selfs in die beste planne sal daar probleme opduik. Leiers moet gereed wees om aan te pas en weer te dink, weer te probeer en weer te kyk.
Nehemia se verhaal sluit af met die resultaat van ’n PRYSLIED vir die Here. Uit Nehemia se verhaal kan ons sien dat wanneer ’n pyn oorgaan na ’n prentjie of ’n visie, en dit oorgaan na ’n plan – ’n plan wat uitgevoer word en probleme wat aangespreek word – word God geprys.
Hierdie verhaal en eienskappe uit Nehemia se rol as leier leer ons juis dat dit mense is wat ’n visie van die Here af kry en wat daardie visie uitrol, wat die wêreld verander. Dit kan jy ook wees!
Aangaande hierdie leesplan
In hierdie 5-dag leesplan praat Stephan Joubert oor die ware aard van leierskap. Hy fokus veral op diens aan ander en hoe leiers ander kan help om die wêreld te sien en te verstaan, om die verlede te evalueer en om vir die toekoms te beplan. Maak die praktiese konsepte jou eie sodat jy mense tot hoër hoogtes kan inspireer.
More
Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.rightnowmedia.org/za