Die Here Is My HerderVoorbeeld

Die Here Is My Herder

DAG 3 VAN 7

Mét God

Ek gesels met ’n persoon wie se onderneming wat hy oor jare opgebou het, tydens die Covid-19-pandemie tot niet gegaan het. Daar is niks oor nie. Behalwe dat hy en sy gesin geen inkomste het nie, moes hy sy getroue werkerskorps aflê. Die meeste van hulle was meer as werknemers. Hulle was ook sy vriende. En tog — terwyl hy sy storie vir my vertel — raak ek daarvan bewus dat hy steeds bly hoop. Sy oë is in kinderlike vertroue op God gerig. “Ek wéét dat die Here ons deur hierdie tyd gaan help. Ek weet dat Hy iets groots gaan doen, sodat ons later sal kan terugkyk en sy Naam loof.”

Dawid skryf in Psalm 18: "Met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie." Om die muur storm te loop is ’n geloofsprong. Dawid kan nie sien wat anderkant die muur aangaan nie. Hy weet nie of die vyand reeds regstaan met hul spiese en swaarde nie. Sy oë is egter nie op die soliede muur voor hom gerig nie, maar op God.

Dit is wat geloof in die praktyk beteken: om vorentoe te gaan, al kan jy nie sien nie en om vas te klou aan God se beloftes sonder enige sigbare bewyse.

Hebreërs 11:1 verwoord dit so: "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie."

Dawid se woorde, sowel as dié van die Hebreërsskrywer, is vandag nog geldig.

Dankie, Here, dat ek in blindelingse geloof na U kan opkyk. Amen

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Here Is My Herder

Het God al ooit vir jou ver gevoel? Oorverdowend stil wanneer jy Hom die nodigste het? Lizette Murray lei ons in hierdie 7 dagstukke uit haar dagboek DIE HERE IS MY HERDER om opnuut te ontdek dat God ons nooit verlaat nie. Hy is áltyd by ons. Hy is daar in die vreugdes van die lewe, maar ook in die hartseer en donker tye.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/