Jesus Se Woorde Vir Elke DagVoorbeeld

Jesus Se Woorde Vir Elke Dag

DAG 3 VAN 7

Sy onuitgesproke woorde

Jesus het vir sy dissipels gesê Hy moet ly en Hy sal oorgegee word in die hande van die Fariseërs en skrifgeleerdes en hulle sal Hom verwerp. Lukas maak egter ’n verdere kantaantekening van dit wat Jesus gesê het. Hierdie woorde het Hy nie uitgespreek nie, maar Lukas sê vir ons Hy het wel in sy gedagtes die volgende besluit geneem: dat Hy nou sy finale reis na Jerusalem vir sy lyding moes aanpak (Lukas 9:51).

As méns moes Jesus sekerlik baie gedink het oor die voor- en nadele van sy finale reis na Jerusalem. Hy het geweet dit wat daar op Hom wag, sou nie maklik wees nie.

Toe die tyd nader kom, het Jesus vasbeslote die reis na Jerusalem begin. Die woord “vasbeslote” (Lukas 9:51) dui daarop dat Jesus ’n finale besluit geneem het. Hy was gedetermineerd om na Jerusalem toe te gaan om sy lewe vir sy mense af te lê. Die liefde vir sy skape en die oortuiging dat die Vader Hom gestuur het vir hierdie werk, het sy voetstappe ferm gemaak, sy gesig stralend en sy oë gerig op die doel. Niks sou Hom kon keer om hierdie besluit uit te voer nie. Niemand sou Hom van hierdie pad af wegtrek nie. Hy móés na die kruis gaan. Wat ’n wonderlike, totale, heelhartige oorgawe en toewyding!

In sy gemoed het Jesus vir Homself gesê dat dit nou sy tyd is. En toe het sy dade sterker as sy woorde gepraat. As ons kyk na hierdie toewyding van Jesus, roep dit ons ook op om met toewyding te doen wat die Here van ons vra. Ons moet maar sy woorde binne-in ons ook laat weerklink: woorde van aanmoediging, woorde van beslissing, woorde wat wys op die doel van ons lewe, naamlik om Hom te volg en te dien.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Jesus Se Woorde Vir Elke Dag

Dis nie aldag maklik om in God se lig te leef nie. Ons moet tyd maak om sy woorde binne-in ons te hoor en te laat weerklink: woorde van aanmoediging, woorde wat wys op die doel van ons lewe, naamlik om Hom te volg en te dien terwyl Hy elke dag saam met ons is. Hierdie 7-dag leesplan kom uit JESUS SE WOORDE VIR ELKE DAG deur Jan de Wet.

More

Ons wil graag Christelike Kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/