Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met GodVoorbeeld

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

DAG 3 VAN 14

“God se wet bring vreugde”

God se wet wil nie net vir jou ’n padkaart van die lewe wees nie, maar ook ’n padkaart na geluk. Wanneer jy hierdie padkaart volg, gaan jy ontdek dat dit jou baie gelukkig maak om volgens dié spesifieke voorskrifte te lewe wat God vir jou in sy Woord uitstippel. Dit is juis die hoofdoel waarom Hy jou gemaak het: om sy wil te doen en Hom te eer. Wanneer jy dus sy wet gehoorsaam, volg die vreugde sommer vanself omdat jy weet dat jy aan God se doel vir jou lewe beantwoord.

Die hele Psalm 119 is een lang vreugdelied oor die wet van God: “U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my ’n vreugde. Ek smag na u hulp, Here, in u wet vind ek my vreugde” (v. 111, 174, Bybel in Afrikaans 1983/1992). Ook Paulus ken hierdie vreugde wat gehoorsaamheid aan God se wet vir ’n mensekind bring: “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God” (Rom. 7:22, Bybel in Afrikaans 1983/1992).

Omdat God jou liefhet, gee sy wet vir jou duidelike riglyne oor hoe jy elke dag met blydskap kan lewe. As jy onderneem om die wet te onderhou, sál jy inderdaad saam met die psalmdigter kan getuig: “Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld” (Ps. 119:14, Bybel in Afrikaans 1983/1992). Dan kan jy ook die pragtige belofte in Psalm 112:1 (Bybel in Afrikaans 1983/1992) vir jou rekening neem: “Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.”

GEBED: Hemelse Vader, ek loof U vir die vreugde wat gehoorsaamheid aan u wet in my lewe bring. Amen.
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Vreugde vir vandag: 14 vreugdevolle dae met God

Om werklik gelukkig te wees en met blydskap te leef, is waarna elkeen van ons streef. Wanneer ons God se leiding vir ons lewe aanvaar, sy gebooie gehoorsaam en die regte keuses binne sy plan vir ons maak, kan ons geluk en geloof groei. Hierdie 14-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor geluk en ’n slotgebed.

More

Ons wil graag Nina Smit / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/