Die God Wat HerstelVoorbeeld

Die God Wat Herstel

DAG 3 VAN 29

Week 1 — Kom, Here Jesus!

In Afwagting op Verlossing

Lees: Jesaja 2:1–5

SOAP: Jesaja 2:5

"Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom."

Oordenking

Die doel van Jesaja se profesieë was om die mense van Juda te waarsku oor die behoefte om hulle te bekeer en na die Here terug te keer, asook om hulle te herinner aan die hoop wat hulle in die komende Messias het. Al het hulle in 'n tyd van oorlog, chaos, vernietiging en vrees gelewe (meestal die gevolg van hulle eie sonde), sou hulle God hulle nie in die steek laat nie. Hy sou 'n Verlosser stuur, die Messias, wat hulle sou red en herstel bring.

Al was daar oordeel aan die kom, het God hulle 'n kykie in die toekomstige heerlikheid van Jerusalem gegee. Die volk van God sou na sy woonplek getrek word; hulle sou na die Here se tempel gaan en Hom volg. Hulle het teen God gesondig en sy toorn sou oor hulle kom, maar Hy sou hulle ten volle herstel op sy volmaakte tyd.

Dit is die karakter van ons God. Dit maak nie saak wat ons gedoen het of hoe ons (persoonlik en liggaamlik) teen Hom gedraai het nie, Hy is die God wat herstel. Hy het sy Seun gestuur as die Verlosser van ons siele. Hy is ons hoop, die belofte van herstel. Wanneer ons wandel in sy lig wat ons lei, sien ons die toekomshoop wat ons in Hom kry.

Die mense van Juda het uitgesien na die eerste Advent, die koms van die Messias. Vandag leef ons tussen die eerste en tweede Adventtyd. Christus het gekom, en Hy kom weer! Alhoewel ons in 'n gebroke wêreld leef, is daar 'n beter een aan die kom. Ons God belowe om dit wat verlore is, te herstel, te verlos en terug te eis.

Terwyl ons hierdie tydperk van Advent binnetree, mag ons ons harte na Hom keer en nadink oor sy karakter. Alhoewel ons wêreld deur sonde en dood verwoes is, sal niks Hom daarvan weerhou om sy beloftes na te kom nie. Ons wag steeds op die vervulling van hierdie profesie in Jesaja 2. Mag ons, terwyl ons dit doen, voortgaan om te wandel in die Here se lig wat ons lei, na geloof en 'n oorvloedige lewe in Hom.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die God Wat Herstel

Met Kersfees vier ons Christus se eerste koms, terwyl ons wag en uitsien na sy wederkoms. Ons dink aan die gebrokenheid van ons wêreld en hoe Hy herstel en heelheid gaan bring wanneer Hy kom. Ons loof Christus met vreugde omdat ons ons hoop op Hom stel. Hierdie Bybelstudie neem ons deur die Adventstyd, ‘n tydperk van wag en groot verwagting op die koms van ons ewige Koning.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans