Spreuke: Die Waarde Van WysheidVoorbeeld

Spreuke: Die Waarde Van Wysheid

DAG 1 VAN 8

Die waarde van wysheid

Spreuke, Prediker en Job staan bekend as die wysheidsliteratuur in die Bybel. Hierdie boeke het ’n baie spesifieke doel: om my te leer hoe om die lewe met behulp van God se wysheid aan te pak. Ons fokus hier op Spreuke, maar ek wil jou aanmoedig om ook die ander twee wysheidsboeke te gaan lees.

Die Bybel is nie ’n boek wat voorgee dat daar geen vrae is nie. Inteendeel, elke boek in die Bybel worstel met een of ander aspek van ons menswees – verhoudings wat skeefloop, teleurgestelde toekomsverwagtinge, ons sterflikheid, die stryd om soms net te oorleef – en geen boek doen dit meer as die wysheidsliteratuur nie.

Die wêreld waarin ons leef, is elke dag besig om vir ons te sê wat waarde het: Koop hierdie, dra dit, ry dat, dink só, bly daar, kyk dit, eet dit, soek hierdie ... Dis alles ’n groot kompetisie. Maar Spreuke sê vir ons hier is iets met meer waarde as dit alles ... Nie iets wat jy koop of dra of eet nie, maar ’n manier van leef. Spreuke 3:16-18 verduidelik ook die waarde van wysheid; dit gee ’n lang lewe, dit bring rykdom en eer, maar die belangrikste van als: Dit gee ’n vol lewe. En dit is nie net ’n eenmalige gebeurtenis nie, dit is ’n bron van lewe. Dit hou aan om meer en meer nuwe lewe te gee.

Spreuke 3:19-20 bring ook nog ’n aspek van wysheid na vore: Krag. Dit verwys na God se skeppingswerk en sê God het wysheid gebruik om dit te doen. Wysheid is dus nie net voordelig nie; dis kragtig. Al hierdie voordele, waarde en krag is tot ons beskikking met behulp van die wysheid wat God vir ons wil gee.

Elke deel van die Woord van God is aan ons gegee om uit te leef. Spreuke is beslis nie net ’n boek vir in jou studeerkamer of in die kerk op ’n Sondag nie. Dit is ’n boek vir die straat, vir jou kantoor, daar waar jy leef en werk en beweeg. Dit is die praktiese wysheid van God om jou lewe in pas met God te bring.

Gryp hierdie wysheid aan!

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Spreuke: Die Waarde Van Wysheid

Het jou woorde jou al in die moeilikheid laat beland? Bekommer jy jou oor finansies? Voel jy asof jou werk sinneloos is? Hoe beïnvloed jou vriende jou? In die volgende 8 dae deel Francois Lamprecht beginsels uit die boek Spreuke wat ons kan help met hierdie en ander uitdagings waarvoor ons almal elke dag te staan kom.

More

Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://app.rightnowmedia.org/en/content/details/768019