Spreuke: Die Waarde Van WysheidVoorbeeld
Geld, geld, geld ...
Ons sê dikwels dat geld die wortel van alle kwaad is. Maar dit is nie regtig wat die Bybel sê nie. 1 Timoteus 6:10 sê dat die liefde vir geld (nie geld op sigself nie) die wortel is van alle soorte kwaad. Geld self is dus nie die probleem nie, maar ons houding teenoor dit kan ’n probleem wees. Spreuke leer ons beginsels wat sal verseker dat ons verhouding met geld gesond en wys is.
Die tekste in Spreuke oor geld kan in drie kategorieë ingedeel word: die probleem, die geleentheid en die balans van geld.
Die grootse probleme rondom geld waaroor Spreuke ons waarsku, is dat ons geld ons nooit waarlik gelukkig kan maak nie (Spreuke 15:16), dat geld nie naastenby die belangrikste ding in die lewe is nie (Spreuke 11:4) en dat geld verslawend is – ’n probleem wat na ander probleme lei soos ontevredenheid en oneerlikheid (Spreuke 21:6).
Spreuke wys ons ook op iets goeds rondom geld: Die geleentheid om God te eer (Spreuke 14:31; 19:17). God beveel ons om ons voorregte te gebruik om ander te seën. Spreuke is baie positief daaroor dat God ons sal seën as ons vrygewig leef en vir ander sorg. Ons moet egter onthou dat daardie “seën” groter is as geld. Dit het ’n invloed op ons lewensgeluk en ons groei as mense wat nie verslaaf is aan geld of vertrou op ons besittings nie.
Spreuke gee vir ons praktiese riglyne om die fyn balans tussen die goed en sleg van geld te kan handhaaf. Eerstens: Vrygewigheid. Dít help my om in balans met geld te leef. Wanneer ek gee, word ek daaraan herinner dat die lewe nie gaan oor die opgaar van geld nie. My geld is ’n middel waarmee ek iets belangriks kan doen. Vrygewigheid oorwin ook die verslawing van ontevrede wees met wat ek het – hoe meer vrygewig ek leef, hoe meer is ek bewus van ander se behoeftes. En hoe meer besef ek hoe bevoorreg ek is.
Oordeel oor waarop ons ons geld uitgee, is ook belangrik. Ons moet kyk dat dit waarop ons ons geld uitgee dinge is wat ewige waarde tot ons lewens toevoeg en nie net ongesonde gewoontes voed of ons ego streel nie.
Geduld en harde werk is die laaste beginsel vir balans. Daar bestaan nie iets soos vinnig ryk word nie – as dit te goed lyk om waar te wees, kan jy weet daar is fout (vergelyk Spreuke 28:20). Die soort rykdom wat ’n seën sal wees, kom deur harde werk. Hierdie beginsels sal jou help om die geld wat God vir jou gee te besit sonder dat dit jou ooit sal besit.
God seën jou elke dag. Moenie dat die wêreld jou oortuig dat jy eers ’n goeie lewe sal hê wanneer jy meer geld het nie. Geniet die gawes van God en gebruik dit om ’n verskil te maak.
Aangaande hierdie leesplan
Het jou woorde jou al in die moeilikheid laat beland? Bekommer jy jou oor finansies? Voel jy asof jou werk sinneloos is? Hoe beïnvloed jou vriende jou? In die volgende 8 dae deel Francois Lamprecht beginsels uit die boek Spreuke wat ons kan help met hierdie en ander uitdagings waarvoor ons almal elke dag te staan kom.
More
Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://app.rightnowmedia.org/en/content/details/768019