Here, dis ek hierso!Voorbeeld
WANT CHRISTUS IS MY BRON VAN KRAG
"Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ‘n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak." Spreuke 3:5 DB.
Klink jou noodroep dalk vandag so:
"Here ek is bekommerd oor my kinders, die ekonomie en die land. Boonop is ek super gespanne oor my finansies en siekte in ons familie. Ek is bang ek verloor my huis. My huwelik val uitmekaar, Here. Dit voel of ek in ‘n afwaartse spiraal val as gevolg van alles wat in my lewe verkeerd is!"
Terwyl jou gedagtes om en om al jou probleme en vrese sirkel, is jy nie meer in staat om die goedheid van mense en die mooi van die lewe ook raak te sien nie, nè?
Lees net gou saam met my uit Filippense 4:6-7 DB. Daar staan: “Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.”
Maar ons moet ook vers 8 lees, want hier is die teenvoeter vir al ons bekommernisse: “... Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ‘n goeie lig stel.” Ons gedagtes het ‘n kragtige uitwerking op ons gemoed en prestasie, hoor! Jy het ‘n keuse oor wat jy in jou gedagtes toelaat.
Ag, moenie meer bang en bekommerd wees nie. Maak sommer nou ‘n lysie van alles wat goed, reg en mooi in jou lewe is. Bring dit voor God en sê vir Hom dankie daarvoor.
Laat Filippense 4:13 DB vandag jou oorlogskreet wees: “Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.” Die 1953 vertaling sê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Gebed:
My Hemelvader, U sien my raak. Dankie dat ek vandag al my probleme en vrese aan U kan vertel. Dankie dat U verstaan. Help my asseblief om liewer te fokus op al die goeie dinge in my lewe. Ja, Jesus Christus, U is my bron van krag! Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Voel jy soms bang en moedeloos omdat die lewe se uitdagings net te veel vir jou raak? Voel jy soms jy hoor nie meer God se stem nie? Wonder jy selfs oor jou eie identiteit? Gelukkig is God so lief vir jou dat Hy jou vul met sy krag as jy na Hom toe kom. Hy kan selfs meer gee as wat jy vra. Roep Hom! Hy sien jou raak.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/