Here, dis ek hierso!Voorbeeld
GEE JOU HELE LEWE VIR GOD
"En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen." Romeine 12:1 AFR83.
Eintlik moet ons eers hoofstuk 11 ook lees. Daar praat Paulus oor hoe groot God se genade is. Hy red mense sonder dat hulle dit verdien. Diegene wat hul harte teen God verhard het, het Hy aan hul ongeloof oorgegee. Sodoende het Hy mense laat voel hoe verskriklik dit is om ver van Hom af te leef. Maar Hy het ook mense laat voel hoe wonderlik dit is om sy genade te kan ervaar.
Hoe kan ons dit waag om God te bevraagteken? Ons kan eintlik nooit God se optrede verklaar, of sy planne verstaan nie. Ons kan ook nie vir God ‘n guns bewys om sodoende iets van Hom af terug te wil ontvang nie. Jy sien, ek en jy moet onthou dat God alle dinge in stand hou wat bestaan. Ons is op hierdie aarde om sy Naam groot te maak.
Daarom begin Hoofstuk 12 met hierdie vers: "Ek wil nou ’n baie ernstige versoek tot julle rig. Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. ’n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan." Maak dus die keuse om jouself heeltemal aan God toe te wy wanneer jy Hom aanbid. As jy Jesus Christus gekies het as jou Verlosser en Saligmaker, moet jy weet jy is eenkant gesit vir God. Jy is heilig. Daarom moet jou lewe so wees om Hom met elke aspek van wat jy dink, doen, of sê te loof en te eer. Vra Hom om jou denke te verander. Vra Hom om jou van binne af nuut te maak.
Ek en jy kan nie meer deel wees van die groep wat met Jesus spot nie. Dit het tyd geword dat almal wat met ons te doen het, sal kan weet en sien dat ons kinders van God is omdat ons ‘n verhouding met Hom het. Ja, ons beoefen nie ‘n lippetaal godsdiens nie, maar het wel ‘n aanbiddingsgees vir die Een wat ons uit genade van ons sondeskuld kom red het.
Met ander woorde, of jy by jou werkplek is, of jy met sport besig is, of jy by vriende kuier, in die winkel of by jou huis is: tree so op dat jou gedagtes, woorde en dade vir God aanneemlik is.
Gebed:
My Hemelvader, dankie dat U my eenkant gesit het vir U. Ek kies vandag om my hele lewe vir U te gee. Dankie vir u genade. Laat ek asseblief ‘n lewe leef tot u eer, want ek glo: U sien my raak. Dankie my Heer. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Voel jy soms bang en moedeloos omdat die lewe se uitdagings net te veel vir jou raak? Voel jy soms jy hoor nie meer God se stem nie? Wonder jy selfs oor jou eie identiteit? Gelukkig is God so lief vir jou dat Hy jou vul met sy krag as jy na Hom toe kom. Hy kan selfs meer gee as wat jy vra. Roep Hom! Hy sien jou raak.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/