Wees jý die Barnabas.Voorbeeld

Wees jý die Barnabas.

DAG 5 VAN 7

JA, ONS MAAK OOK FOUTE

"Toe hulle daar opdaag, het Petrus skielik opgehou om saam met nie-Joodse gelowiges te eet ... selfs Barnabas, saam met wie ek daar in die kerk in Antiogië gewerk het, is deur hierdie skynheiligheid meegevoer" Galasiërs 2:12,13 (uittreksels) DB.

Paulus is besig om ons hier in Galasiërs 2 te vertel wat gebeur het:

Petrus – en dan ook Barnabas – het die heeltyd daar in Antiogië saam met die nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe daar ‘n klompie Joodse gelowiges by die gemeente aankom, begin Petrus sommer nie meer saam met hulle eet nie. Hy het dit gedoen omdat hy bang was oor wat die Joodse gelowiges sou sê as hulle sien die Joodse wette word oortree. Hy het selfs vir Barnabas beinvloed om soos hy te maak. Paulus noem hierdie optrede van Petrus en Barnabas en van die ander apostels, sommer skynheiligheid.

En tog, ons maak ook maar almal foute! Dink ‘n bietjie aan die kere waar jy dalk verkondig dat kinders van die Here nie moet vloek of oneerlik moet wees nie, maar as jy kwaad word, sê jy lelike woorde. Dalk sit jy op ‘n Sondag voor in die kerk, maar Saterdagaand het jy jou vrou geslaan, of jou man gekul met sy beste vriend? Miskien lê jou skynheiligheid daarin dat jy in die kerk saam met ander gelowiges Jesus, Jesus, uitroep, maar by die huis of werk ken jy hom nie; lees jy nooit jou Bybel, of bid nie.

Gelukkig het Barnabas sy fout agtergekom. Die leiers van die gemeente het hom selfs later soveel vertrou dat hulle hom gevra het om deel te hê aan die samesprekings oor hoe om die heidene deel te maak van die Christengroep in die kerk. Petrus het ook sy fout besef. God het aan hom ‘n visioen gewys sodat hy kon verstaan God maak nie onderskeid tussen mense nie. Hy het aarde toe gekom om sy Verlossing te bring aan Jode en nie-Jode. Ons almal is God se kinders. ELKEEN wat Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker SAL die ewige lewe geniet, sê Jesus. (Handelinge 15:1 – 11)

God is genadig! Hy sien as ons jammer is oor ons foute. Hy weet as ons nie weer die verkeerde ding wil doen nie. Hy help ons daarmee. As ons Hom vertrou, gee Hy weer vir ons guns waar ons dit nodig mag kry.

GEBED:
My Hemelvader, dankie dat U my hart ken en dat U raaksien as ek jammer is oor my foute. Help my asseblief om nie skynheilig te wees nie. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Wees jý die Barnabas.

Wees jy ‘n Barnabas vir ander. Wees lief vir Jesus Christus sodat jy vol kan wees van die Heilige Gees. Laat jou geloof jou dring om jou oor mense te ontferm, hulle moed in te praat en tweede of derde kanse te gee. Wees jy die een wat nie skroom om agter die skerms te werk sodat ander hul volle potensiaal kan ontwikkel nie. Seën mense.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/