Wees jý die Barnabas.Voorbeeld

Wees jý die Barnabas.

DAG 6 VAN 7

PRAAT MENSE MOED IN

"So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam van Levi, en is op Siprus gebore" Handelinge 4:36 NLV.

Barnabas is die agter-die-skerms-ou wat gesorg het dat Paulus op die plek kon kom waar God hom bedoel het om te wees. Jy onthou mos dat Paulus eers die Christene vervolg het? Gelukkig dat Barnabas daar was om die apostels te oortuig om Paulus se verhaal te glo.

Hy was ook die een wat vir Markus later ‘n tweede kans gegee het. Paulus wou nie vir Markus saamvat op hul tweede sendingreis nie, omdat Markus hulle met die vorige sending halfpad in die steek gelaat het. Barnabas het egter Markus onder sy vlerk geneem, toegelaat dat hy saam met hom gaan en was as’t ware Markus se mentor. Gelukkig tog, want dit is danksy Barnabas dat ons vandag Markus se evangelie kan lees!

O ek bid dat jy ook in jou hart die begeerte sal ontwikkel om ‘n Barnabas vir iemand anders te wees! Bid en vra dat God jou sal help om ander mense te bemoedig en aan te moedig. Steek jou hand uit en help ander wat sukkel. Bid vir mense wat alleen, moedeloos is, of wat probleme het.

Die Woord van God is vol bemoediging vir elkeen van ons. Hy sê op die dag van gevaar sal hy ons wegsteek in sy huis (Psalm 27:5,6); Paulus skryf dat God ons Vader is wat Hom ontferm oor ons en Hy is die God wat in elke omstandigheid moed gee, daarom kan ons weer ander mense bemoedig (2 Korintiërs 1:3,4); In Jesaja sê God Hy vat ons hand en Hy is die Een wat ons help (Jesaja 41:13); In Hebreërs lees ons dat God sê Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie (Hebreërs 13:5,6). So is daar dwarsdeur die Bybel verse waarmee God ons gedurigdeur bemoedig.

Daarom kan ek en jy uitgaan en ander aanmoedig om nie moed op te gee nie. Groet vreemdelinge vriendelik by die kerk; sit ‘n vertroostende hand op iemand se skouer wat hartseer is; bied hulp aan met die verwelkoming, of tee skink of selgroepe.

God het nodig dat ons mekaar gedurig sal bemoedig en aanmoedig om deel te word van sy familie hier op aarde.

GEBED:

My Heer, ek wil ook soos Barnabas wees om ander mense moed in te praat. Dankie vir diegene in my lewe wat vir my bid en wat my bemoedig. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Wees jý die Barnabas.

Wees jy ‘n Barnabas vir ander. Wees lief vir Jesus Christus sodat jy vol kan wees van die Heilige Gees. Laat jou geloof jou dring om jou oor mense te ontferm, hulle moed in te praat en tweede of derde kanse te gee. Wees jy die een wat nie skroom om agter die skerms te werk sodat ander hul volle potensiaal kan ontwikkel nie. Seën mense.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/