Elke dag ’n feesdag!Voorbeeld

Elke dag ’n feesdag!

DAG 3 VAN 5

“Dié Kersfees sal ek nooit vergeet nie … ”

Ons wou dié Kersfees sonder die gewone herdenkings soos byvoorbeeld 'n Kersboom en blink liggies vier en onthou. Toe het ons gesin besluit om Oukersaand op ’n eenkant stil strandjie deur te bring en die nag op die strand in ons tweemantentjies te slaap. “Eenvoudig” was die wagwoord. Ons geskenke aan mekaar was drie handgeskrewe briewe wat diep uit ons harte gekom het. Die eerste brief was ’n “Dankie-vir-jou-sê-brief", die tweede een het begin met “Ek bewonder jou omdat ... " en die derde een met "Weet jy, ek is die Vader so dankbaar vir … ”

Daardie aand was die vere van seemeeue en ons piekniekkombers ons dekor, die geklots van branders ons mooiste Kersmusiek, die geknetter van ’n klein vuurtjie ons warm-maak-lig en die helder sterre teen die nagblou hemel ons onthou van die Betlehemkind. Ons het dit alles en die opregte woordgeskenke aan mekaar baie diep in ons harte en geheue gebêre voordat ’n hemelse vrede ons aan die slaap gesus het.

Miskien was hierdie Kersfees so onvergeetlik juis omdat dit gevier is soos Hy dit sou wou hê: eenvoudig maar vol liefde! Dalk wil die Vader juis hê dat ons meer sulke Kersfeeste hou — eenvoudig maar gevul met liefde.

Here Jesus, ek wil so graag in hierdie tyd stilword rondom die ware betekenis van die Kerstyd. Wys my hoe, asseblief. Amen.
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Elke dag ’n feesdag!

Voel dit soms asof hoop voor Kersfees opbou en dan skielik plek maak vir ’n gevoel van leegheid en verlatenheid? God wil hê dat ons elke dag in die oorvloed van sy soort fees deel en besef dat Hy elke nuwe môre ’n nuwe begin met ons wil maak. Gaan leef vandag met opgewondenheid en onthou dat elke dag ’n genadegeskenk van Hom is!

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/