Elke dag ’n feesdag!Voorbeeld

Elke dag ’n feesdag!

DAG 5 VAN 5

Ook ná Kersfees is Hy daar

Die winkels vóór en ná Kersfees staan in skrille kontras met mekaar. Dis asof ons almal ná Kersfees vlug van enige iets wat ons dalk kan oorreed om nóg geld uit te gee en nóg te eet. Ongelukkig is dit mos dan ook asof die hoop wat voor Kersfees opgebou het, plek gemaak het vir ’n gevoel van leegheid en verlatenheid. Daar lê immers weer ’n hele jaar voor waarin ons van voor af ons dagtaak moet aanpak, aan ons gesondheid en fiksheid behoort te werk, in ons verhoudings wil belê, meer wil spaar en regtig wil probeer om beter te lewe. Ons voel nogal dikwels aan ons eie lot oorgelaat in hierdie strewe. Ons weet immers dat dit opoffering, harde werk, doelgerigtheid en deursettingsvermoë gaan vra.

Gelukkig hoef kinders van God nie een van hierdie dinge alleen aan te pak nie, want ons is nie alleen nie. Ons het ’n liefdevolle Vader wat ons ken en verstaan. Hy weet presies wat in ons harte aangaan en wil ons in alles help. Hy wil die pad van die lewe saam met ons loop.

Vul in hierdie dae jou denke met die wete van sy trou, jou gedagtes met die woorde uit die Bybel en jou hart met die liefde van die Gees. Dan sal jy nooit leeg wees nie!

Ek loof U, God my Verlosser, vir u trou. Amen.

Hierdie oordenkings is geneem uit NET SOOS JY IS deur Milanie Vosloo © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Elke dag ’n feesdag!

Voel dit soms asof hoop voor Kersfees opbou en dan skielik plek maak vir ’n gevoel van leegheid en verlatenheid? God wil hê dat ons elke dag in die oorvloed van sy soort fees deel en besef dat Hy elke nuwe môre ’n nuwe begin met ons wil maak. Gaan leef vandag met opgewondenheid en onthou dat elke dag ’n genadegeskenk van Hom is!

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/