Die Beloofde MessiasVoorbeeld

Die Beloofde Messias

DAG 4 VAN 29

Die Beloofde Boodskapper

Lees: Jesaja 40:1–3; Maleagi 3:1; Markus 1:1–13

SOAP: Markus 1:2–3

In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”

Oordenking

God het belowe om 'n verlosser te stuur. Wanneer mense gesondig het, het Hy ons nie gelos om die straf op ons eie te betaal nie. Hy het beloof om 'n Messias, 'n gekose Een een te stuur wat 'n perfekte, sondelose lewe sou leef en wat die straf wat ons verdien het, op Hom sou neem.

Vir eeue het God se mense gewag vir hierdie Messias. Soms het hulle God gevolg en soms het hulle hul eie weg gegaan. Maar ongeag hoe erg hulle gesondig of van God af weggehardloop het, het sy belofte nooit verander nie. 'n Messias was aan die kom, ongeag van hoe gebroke, sondig of hulpeloos God se mense was.

God het ook belowe om sy mense voor te berei vir die komende Messias. Hy wou hê dat sy mense gereed moes wees om die Messias te herken wanneer Hy kom, dus het God gesê dat Hy 'n boodskapper vooruit sou stuur. Hierdie boodskapper sou die mense waarsku oor hoe naby die koms van die Messias was en aan hulle verkondig om tot bekering te kom en hulle harte terug te keer na God.

God het deur die profete Jesaja en Maleagi gespreek om sy mense te laat weet dat hierdie boodskapper in die woestyn sou kom en dat hy die mense sal laat weet wanneer die Messias sou kom en wie Hy was. 'n Man met die naam Johannes was daardie boodskapper.

Johannes se vader was 'n priester. Hy was 'n belangrike man, baie bekend in die gemeenskap en tussen die ouderlinge van Jerusalem. Johannes was anders; hy het in die woestyn gebly en sprinkane en veldheuning geëet. Hy was egter God se boodskapper. Hy het uitgeroep vanuit die woestyn en baie mense het na die woestyn gekom om sy boodskap te hoor en gedoop te word.

Johannes was die vervulling van God se belofte. Johannes was nie die Messias nie, maar hy was die boodskapper wat aan God se mense aangekondig het dat hulle Messias gaan kom.

Dit was nie vir God nodig om sy mense te laat weet wat Hy sou doen nie. Hy kon sy Messias na hulle toe gestuur het sonder waarskuwing. Hulle harte moes egter voorberei word sodat hulle gereed sou wees om die Messias te ontvang. God berei ons altyd voor vir dít wat Hy vir ons het — of dit beproewings of seëninge is, of om Jesus vir die eerste keer te ontmoet. God hou altyd sy beloftes en ons kan op sy perfekte tydsberekening vertrou.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Beloofde Messias

Wanneer God ‘n belofte maak, het Hy reeds ‘n plan om dit gestand te doen. Sy grootste belofte, om vir ons ‘n Verlosser te stuur om ons van sonde te red, word bewys deur die lewe, dood en opstanding van Jesus. In hierdie studie gaan ons dieper delf in die spesifieke messiaanse beloftes wat God aan sy volk gemaak het en hoe Jesus elkeen van hierdie beloftes vervul het.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.loveGodgreatly.com