Jesus se Laaste DaeVoorbeeld

Jesus se Laaste Dae

DAG 4 VAN 8

Stilte (Woensdag, twee dae voor die kruisiging)

In die middel van die belangrikste week ooit in die wêreld se geskiedenis, vind ons hierdie vreemde verskynsel, ‘n stil dag. Skielik is daar een dag in hierdie baie besige week van Jesus se lewe wat daar klaarblyklik nie veel van belang gebeur nie. Jesus gaan maar net aan om te leer. Terselfder tyd maak die Joodse raad planne om Jesus om die lewe te bring.

Jesus gaan aan: Lukas 21:37-38

Joodse raad beplan om Jesus dood te maak: Matteus 26:3-5, Markus14:1-2, Lukas 22:1-2

Dit laat ons dink aan oënskynlike stil tye in ons lewens, tye wanneer die plan en wil van God nie altyd so maklik en duidelik sigbaar is nie.

Dit laat ons ook dink aan al die moontlike planne wat mense kan hê. Ek is seker jy het ‘n plan vir jou lewe. Jou ouers het sekerlik ‘n plan vir jou lewe gehad en so ook baie ander mense. Daar kan sekerlik ook gesê word dat die duiwel ‘n plan vir jou het. Maar dit wat God se plan is sal altyd seëvier te midde van mense se planne en soms ook mense wat verkeerd optree, selfs sondig.

Dink maar aan Josef; sy broers was hom vyandiggesind en wou hom dood maak, hulle het hom verkoop aan slawehandelaars en hulle het vir sy pa gejok. Maar Josef se eie woorde "Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is", dui so duidelik daarop dat God selfs die slegte en negatiewe dinge wat soms met ons gebeur, ten goede kan gebruik. Die psalmdigter skryf dat God Josef vooruit gestuur het, maar dit is nie wat ons met die eerste oogopslag in Genesis lees oor Josef se lewe nie.

God het ‘n plan. God werk … al lyk en voel dit nie altyd vir ons so nie.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Jesus se Laaste Dae

Wat het gebeur gedurende Jesus se laaste dae op aarde? Hierdie agt dae leesplan neem jou op 'n geestelike reis deur die gebeure van Jesus se laaste dae. Ons begin met die Intog in Jesusalem (Palmsondag) en volg dan die gebeure van Jesus se sterwe tot sy opstanding. Berei jou hart voor vir Paasfees soos wat ons DIE LEWE bekyk wat alle lewens verander het.

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lewendewoordmidrand.co.za/