My beste vir my HereVoorbeeld

My beste vir my Here

DAG 3 VAN 7

WAT JESUS MY LEER

"Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy" 1 Korintiërs 15:20 (DB).

Vir ons as gelowiges is dit so nodig om te weet dat die “eerste opbrengs” van die Ou Testament, in die Nuwe Testament bekragtig is met God wat vir ons sy liefde kom demonstreer het. Hy het sy heel beste, sy enigste Seun, gegee om die prys vir ons sonde aan die kruis te betaal. Drie dae later het God self Hom weer lewendig gemaak. As ons dit glo en Jesus Christus in ons harte innooi, dan kan ons verseker wees dat ons eendag saam met Hom in sy hemelse woning sal leef.

Lees net hoe die Amplified Bible ons teksvers verduidelik: “But now [as things really are] Christ has in fact been raised from the dead, [and He became] the first fruits [that is, the first to be resurrected with an incorruptible, immortal body, foreshadowing the resurrection] of those who have fallen asleep [in death]."

Omdat ons dit glo en so dankbaar is vir God se genade en liefde vir ons, daarom kan ons nie anders as om ‘n begeerte te hê om weer vir Hom ons beste te wil gee nie. Gedurende sy tyd op aarde het Jesus vir ons kom wys wat dit beteken om die minste te wees; hoe om eerste na ander se belange om te sien; hoe om uit te reik na mense van alle ouderdomme, stand en nasie. Hy het ons kom leer wat dit is om jou béste vir God te gee.

In 2 Timoteus 2:15a (DB) sê Paulus vir ons: “Doen jou bes om jou werk so te doen dat God trots sal voel op jou.” As ek en jy ons beste gee in alles wat ons doen, dan sal ons ons nie hoef te skaam om die boodskap van die Here Jesus — dit wat die waarheid regtig is — vir ander te vertel nie.

Ons moet hierdie sin onthou: “Ons kan nooit vir God te véél gee nie!” Jy sien, alles wat ons het en is, is in elk geval Syne. Ons gee, omdat ons dankbaar is vir dit wat Jesus Christus vir ons gedoen het.

GEBED:

My Vader, dankie dat U vir my Jesus Christus gegee het. Dankie dat u liefde en genade so groot is sodat ek, wat ‘n sondaar is, gered kan word. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

My beste vir my Here

Om jou heel beste vir God te gee, gaan iets van jou vra. Mag jy vandag die besluit neem om Jesus Christus die koning van jou hart te maak. Bid dat die Heilige Gees jou sal aanraak, sodat jy uit dankbaarheid net jou beste vir Hom wil gee. As jy twyfel oor hoeveel en wat jy moet gee, gaan vra vir God; Hy sal jou help.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/