My beste vir my HereVoorbeeld

My beste vir my Here

DAG 4 VAN 7

WAT IS MY TIENDE?

"Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het" 1 Kronieke 29:14b.

Ons moet onthou dat God met die skepping alreeds sy besittings met die mensdom gedeel het. Alles behoort in elk geval aan Hom. Jy, jou man of vrou, kinders, huis, motor, werk, besittings, geld. Die hele wêreld behoort aan Hom. Nee, die hele heelal behoort aan Hom. God het ons vertrou om op hierdie aarde te kan bly en om alles vir Hom op te pas.

Baie mense raak paniekerig as hulle dink hulle moet nou presies ‘n tiende van hul inkomste weggee. Die eerste keer waar ons in die Bybel die woord “tiendes” teëkom, is in Genesis 14:20 waar Abraham (toe nog Abram), ‘n tiende van al sy besittings vir die hoëpriester Melgisedek gegee het. In Genesis 28:20-22 lees ons weer van Jakob wat vir God belowe dat hy ‘n tiende van al sy besittings vir die Here sal gee, as Hy hom beskerm.

Ons lees nog nie in Genesis van ‘n opdrag om tiendes te gee nie. Miskien het Abraham en Jakob dit uit hul eie oortuiging gegee. Dit lyk egter asof die gee van tiendes begin het as ‘n vereiste wat ‘n instelling geword het — nadat God sy wet aan Moses en die volk gegee het. (Levitikus 27; Deuteronomium 12; Maleagi 3).

Lees ons in Deuteronomium 14, dan verstaan ‘n mens dat die gee van tiendes nodig was om sodoende vir die Leviete en priesters se onderhoud te sorg, asook die versorging van die tabernakel (Numeri 18:21-31; Deuteronomium 12:5-18). Dwarsdeur die Ou Testament was dit die voorwaarde dat die volk altyd die tiende van hul opbrengs moet gee en dan het God belowe dat Hy vir hulle sal sorg.

In die Nuwe Testament lees ons in Matteus 5:17 (AFR53) waar Jesus sê: “MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”

Die verskil is dit: In die Ou Testament is ‘n letterlike tiende vereis. In die Nuwe Testament vereis die gee van tiende die regte gesindheid waarmee ‘n persoon sy of haar dankoffer vir God gee.

Dit hoeveelheid is nie hier ter sprake nie. Dit gaan nou oor ‘n dankbare hart.

GEBED:

Here, ek het so baie om te leer. Gee my asseblief ‘n dankbare hart, sodat ek met die regte gesindheid my geld, talente en my tyd vir ander kan gee. Dankie dat U my seën. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

My beste vir my Here

Om jou heel beste vir God te gee, gaan iets van jou vra. Mag jy vandag die besluit neem om Jesus Christus die koning van jou hart te maak. Bid dat die Heilige Gees jou sal aanraak, sodat jy uit dankbaarheid net jou beste vir Hom wil gee. As jy twyfel oor hoeveel en wat jy moet gee, gaan vra vir God; Hy sal jou help.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/