Sportnetwerk vir Professionele Voetbal se LeesplanVoorbeeld

Sports Spectrum Pro Football Devotional

DAG 5 VAN 5

Dag 5: Die Moed om Jesus te Deel - Matt Forte

Begin deur eers te kyk na wat Matt Forte te sê het oor Die Moed om Jesus te Deel.

Lees nou volgende die boodskap hieronder deur Randy Alcorn en dink na oor die verse wat daarop volg.

Jesus het die harde werk van verlossing gedoen. Hy roep ons om ook ons deel te doen: deel die Goeie Nuus met hulle wat Hom desperaat nodig het (en dis almal!).

Ek het Jesus al gedeel met mense op sypaadjies, in vliegtuie en op tennisbane. Sommige van my vriende dink ek is van nature 'n evangelis. Eintlik nie! Ek het begrip vir Matt se eerlike belydenis dat evangelisasie baie ongemaklik kan wees, maar God roep ons nie om gemaklik te wees nie. My grootste uitdaging is om my mond oop te maak. As ek dit eers gedoen het, gee die Here genadiglik vir my die woorde.

Selfs die apostel Paulus het die gelowiges van Efese gevra: "Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is" (Efesiërs 6:19-20). As Paulus gebed vir vrymoedigheid nodig gehad het, wie het dan nie?

Veronderstel jou ongelowige vriend word met kanker gediagnoseer. Hy lê swaar op jou hart en jy voel God wil hê dat jy Christus met hom moet deel. Verg dit moed om dit te doen? Beslis. Jesus vergelyk dit met die moed van martelare regoor die wêreld wat doodgemaak is omdat hulle Jesus in die openbaar bevestig het!

Wanneer ek op die vliegtuig langs iemand sit, het ek myself al afgevra: "As ek die evangelie met hierdie persoon deel, wat is die ergste wat kan gebeur? Dat hulle afkeurend van my kan wees of dink ek is vreemd? Indien wel, wat daarvan?"

Wat is belangriker: my ongemak van die oomblik of die moontlikheid van 'n ewige gemak vir hulle?

Wanneer jy weet jy moet jou geloof met jou vriend of 'n familielid deel, vra mense om te bid dat jy die moed sal hê en die persoon 'n ontvanklike hart. Soek dan 'n geleentheid en maak jou mond oop. Sodra jy dan van die Goeie Nuus begin praat, word dit makliker omdat jy daartoe verbind is. Dit is makliker wanneer jy onthou dat dit nie oor jou gaan nie - dit gaan oor Jesus en die ander persoon se desperate behoefte om Hom te ken.

Vir my is daar nie veel vreugdes wat daarmee vergelyk kan word as om iemand na Christus te lei nie. Dit is opwindend en verfrissend. Dit is ook wonderlik om die saad van die Goeie Nuus te saai wat eers later vrug mag dra. Mag ons saam met Paulus sê: "Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo..." (Romeine 1:16). Mag ons daagliks vra dat die Here vir ons geleenthede gee om Sy "goeie tyding van groot blydskap" (Lukas 2:10) te deel. Laat ons daardie Goeie Nuus biddend deel en God vir die resultate vertrou!

Indien jy iets uit hierdie leesplan ontvang het en graag by ons wil aansluit om die evangelie deur die lens van sport die wêreld in te neem, besoek ons dan by www.SportSpectrum.com/membership

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Sports Spectrum Pro Football Devotional

Luister na geloof in aksie deur atlete van die Verenigde State se Nasionale Voetballiga (NVL). In hierdie vyf-dag leesplan, kan jy kyk na videos van die NVL se uitblinkeratlete: Drew Brees, Ryan Tannhill, Matthew Slater, Matt Forte and Demario Davis. Hulle bespreek onderwerpe soos die daaglikse verkwikking uit God se Woord, gebed, redding, doop en die moed om ander van Jesus te vertel. Die videos sluit ook daaglikse oordenkings in, deur die outeur en spreker, Randy Alcorn. Dis vir ons lekker om hierdie oordenkings aan jou te bied. Besoek gerus www.SportsSpectrum.com vir verdere sport- en geloofsinhoud.

More

Baie dankie aan Pro Athletes Outreach (Sports Spectrum) wat hierdie leesplan voorsien het. Besoek http://www.sportsspectrum.com vir meer inligting