Ek leer die Heilige Gees kenVoorbeeld

Ek leer die Heilige Gees ken

DAG 5 VAN 7

PRAAT MET HOM

"Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? 8Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas" (Psalm 139:7-10).

Dis vir my ‘n groot gerusstelling om hierdie vers te lees. Ons moet onthou dat die Heilige Gees áltyd by ons is: in goeie én slegte tye. Wanneer ons slaap, wanneer ons werk toe ry, wanneer ons kos maak of in die tuin werk, of wanneer ons met die vliegtuig iewers heen gaan. Hy raak nooit moeg nie. Hy raak nie vaak nie. Hy is werklik altyd by ons en weet van alles wat ons dink, doen en sê. Trouens, Hy weet wat ons gaan doen, nog voordat ons dit self kon dink! (Psalm 139:4; Matteus 6:8).

Onthou net, God is alomteenwoordig. Daarom is Hy oral. Hy is te alle tye bewus van alle mense. Tog moet jy weet dat die verwesenliking van God se teenwoordigheid gebeur wanneer jy in jou gees van Hom bewus raak. Nooi Hom saam met jou as jy eet, gaan slaap, werk, vir vriende gaan kuier, of ‘n vergadering beplan.

Praat met Hom. Vertel Hom van jou dag en van dit wat jou bly en hartseer maak. Moenie Hom ignoreer nie.

Ons ignoreer Hom wanneer ons nie bid nie. Ons sê so maklik: "My dag is te besig. Ek is net te moeg. Ek het nie tyd nie. Ek was te sondig." Eintlik is ons gebedstyd die tyd wat ons moet gebruik om met ons Heilige Gees te praat!

Ons ignoreer Hom as ons nie Bybel lees nie. Jy moet mos hoor wat Hy vir jou wil sê. Ja, baie dikwels praat Hy met ons deur die natuur, deur ‘n wete in jou hart, of deur dinge wat ander mense sê. Daar is ongelukkig so baie valse predikers in die wêreld. Lees dus jou Bybel en leer so om God se hart te ken. Sy Woord is waar en staan vas!

Die Heilige Gees sal jou mooi lei.

GEBED:

O Heilige Gees, vergewe my dat ek U so maklik deur my dag ignoreer. Help my om gedurig met U te praat en dankie dat U vir my pleit by God die Vader. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Ek leer die Heilige Gees ken

Die Heilige Gees wil jou beste vriend wees. Leer Hom ken, sodat jy elke dag met vreugde kan leef, soos dit Jesus se doel was.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/