Ek leer die Heilige Gees kenVoorbeeld
DIE HEILIGE GEES IN MY
"Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God" (Romeine 8:14).
As jy Jesus in jou lewe gekies het, gee God jou die Heilige Gees. Hoe sterker jou verhouding met Hom is, hoe kragtiger werk Hy in en deur jou.
Paulus verduidelik in Galasiërs 5 die praktyke van die sondige natuur. Dis dinge soos onreinheid, haat, woede, rusies en jaloesie. Dan noem hy in vers 22 en 23 die vrug van die Gees: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. As die Heilige Gees jou beste vriend is, dan sal hierdie eienskappe in jou lewe aanwesig wees.
In 1 Korintiërs 12:4-11 verduidelik Paulus die nege verskillende genadegawes wat die Heilige Gees ons gee. Dis een Gees wat dit afsonderlik aan verskillende mense gee soos Hy wil. Die een persoon kry byvoorbeeld die gawe om ‘n woord van wysheid te praat, ‘n ander ‘n woord van kennis. Iemand anders ontvang die gawe van geloof, ‘n ander persoon ontvang die genadegawe van gesondmaking; nog een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander om te profeteer en sommige kan tussen die geeste onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewonde tale of klanke te gebruik en aan ander die genadegawe om dit uit te lê.
God se doel met hierdie genadegawes is tot opbou van die gemeente (1 Korintiërs 14:26). Paulus sê in 1 Korintiërs 14:12 “Dit is ook op julle van toepassing. As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt.” Wees dus opgewonde oor die geestelike gawe wat jy ontvang het en maak seker dat dit ook vir ander iets beteken.
Nie almal ontvang noodwendig al die gawes nie. God stel mense in sy kerk aan wat bepaalde take moet uitvoer (1 Korintiërs 12:27-28). Ons moenie hieroor stry en baklei nie. “Alles moet egter gepas en ordelik geskied” (1 Korintiërs 14:40).
Vra die Heilige Gees om jou te wys wat jou geestelike gawe is. Hou aan Hom vas en jy sal sien hoe die vrug van die Gees sigbaar word in jou lewe.
GEBED:
My Vader, dankie dat U my wil gebruik om u kerk te help bou. Dankie o Heilige Gees dat ek u vrug in my lewe kan dra en dankie dat ek U kan vertrou om my toe te rus met ‘n geestelike gawe wanneer dit die regte tyd is. Ek loof U naam! Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Die Heilige Gees wil jou beste vriend wees. Leer Hom ken, sodat jy elke dag met vreugde kan leef, soos dit Jesus se doel was.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/