TydelikVoorbeeld

Tydelik

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Permanente Versekering

Jesaja 26:3-4: “Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug”.

Ons toevlug — die Here God. Dit word telkemaal in die Woord van God aan ons bevestig! Hier op aarde benodig ons versekering, ‘n soort belofte wat in geldwaarde hulp bied as daar fout gaan met byvoorbeeld jou motor of gesondheid. Ons betaal ‘n premie om toevlug of hulp te verkry. In ons tydelikheid betaal ons premies vir wat die wêreld dikteer. Premies op tydelike dinge. Tóg hoef ons geen premies te betaal wanneer dit by God se vrede en voorspoed kom nie. Jesaja skryf juis dat God aan diégene wat op Hom vertrou, vrede en voorspoed sal gee. Geen paaiemente is betrokke by hiérdie hoogs aangeskrewe versekering nie.

Dis alles tydelike dinge, dog belangrik. Wysheid in ons tydelikheid is nodig. Vandag is jy so jonk en gesond as wat jy ooit sal wees — dink daaroor. Die hiér en die nóú is eg maar tydelik. Iemand het eendag gesê: “Wanneer mens verby die skrootwerf ry, kyk mooi. Wat sien jy? Ou geroeste motors, bote of gereedskap wat lank gelede iemand se droom was”. Daardie versekering het reeds uitbetaal — die item was tydelik beveilig. Die vervaldatum is bereik.

Gebed: Here, soms voel ek braaf en bewus van my eie self, die ek wat sorg en sorteer. Dis egter u genade wat my daagliks in staat stel om ‘n nuwe dag te mág leef. Help my deur u Gees om meer bewus van U te wees, ek wil my vertroue in U stel.

Doen: Neem vanaand ‘n stukkie papier en skryf daarop neer hoe hiérdie dag verloop het. As dit goed was, dank die Here daarvoor. As dit sleg was, dank Hom vir die tydelikheid van die sleg. Hoe ook al, vandag is verby en het tydelik 24 uur met jou spandeer. Saam met God gaan jy ‘n ewigheid spandeer!

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Tydelik

Het jy geweet? Elke persoon op aarde het ‘n vervaldatum. Op supermarkte se rakke kan ons elke produk se vervaldatum sien. Die produkte is tydelik op die rak. Ons weet egter nie wanneer dit óns beurt is nie. Ek en jy is tydelik op aarde. Wat doen ons in ons tydelikheid? Die beste van alles is dat probleme en uitdagings ook tydelik is, elkeen ook met sy eie vervaldatum!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com