Met ’n Lied In Die HartVoorbeeld

Met ’n Lied In Die Hart

DAG 3 VAN 7

“Die waarde van ’n person”

 

Die dokumentêre fliek THE WAY WE GET BY handel oor ’n groep bejaardes wat Amerikaanse oorlogsoldate op die lughawe terugverwelkom ná hulle dienstydperk in Afganistan. Bill Knight, 87, is die oudste en ’n Tweedewêreldoorlog-veteraan. Op die vraag hoekom hy dit doen, antwoord hy met hierdie aangrypende woorde: “I have outlived my personal usefulness.” Volgens my het Bill Knight sy lewensmusiek op 87 ontdek. Hy het nie meer bruikbaar vir ander gevoel nie. Sy lewe was leeg en betekenisloos. Sy lewenslied moes gesing word. Hy het sy lewensvreugde teruggevind in sy taak op die lughawe.

Ons lees in Lukas 2 van die bejaarde Simeon wat die Here sy hele lewe lank ken. Die Heilige Gees het aan hom bekend gemaak dat hy nie sal sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Simeon het deur die leiding van die Gees na die tempel gegaan en daar vir Josef en Maria gekry wat Jesus gebring het om die bepaling van die wet na te kom. Simeon het die kindjie in sy arms geneem en God geprys. Hy het sy lied gekry by die Here. Simeon moes wag vir sy lewenslied en bladmusiek tot op sy oudag. God se belofte wat waar word in Simeon se lewe, gee vir hom nuwe lewenskrag. 

Soms lê die beste nog voor. Hoe sal ons weet wanneer ons die musiek ontvang van die Here af? Jy dink dalk jy het jou bruikbaarheid verloor en jy beteken niks. Soek jou bladmusiek en begin sing! Lees vir iemand ’n boek voor. Besoek mense in die hospitaal. Begin ’n bidgroep by ’n skool vir die onderwysers. Groet mense by jou kerk. Versorg jou kleinkinders. Jy sal jou musiek vind ongeag jou ouderdom.

GEBED: Here, soms voel dit vir my ek brom net. Ek het my vervaldatum bereik. Gee U weer vir my musiek om te sing! Amen. 

 

Hierdie oordenking is geneem uit MET ’N LIED IN DIE HART deur Marietjie Joubert © Christelike Uitgewersmaatskappy. 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Met ’n Lied In Die Hart

Voel jou lewe vaal, uitsigloos en vervelig? Het jou lewenslied verdwyn of is die note daarvan net ’n eentonige getokkel? Kom ontdek weer jou lewenslied vol vreugde en dans in God se lig van liefde en verlossing. Hierdie 7-dag-plan is geneem uit Marietjie Joubert se dagboek MET ’N LIED IN DIE HART, en sal jou help om weer by Jesus se voete hoop en inspirasie te kry. Hierdie oordenkings is geneem uit MET ’N LIED IN DIE HART deur Marietjie Joubert © Christelike Uitgewersmaatskappy  http://www.cumbooks.co.za/  

More

Ons wil graag Marietjie en Joubert Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/