Met ’n Lied In Die HartVoorbeeld

Met ’n Lied In Die Hart

DAG 5 VAN 7

“Hoe klink jou lewenslied?”

 

Die Nederlandse sangwondertjie Amira Willighagen het ’n tyd gelede tydens HOLLAND’S GOT TALENT mense gaande gehad oor haar sangtalent. Sy was toe slegs nege jaar oud en het “O Mio Babbina Caro” gesing. Almal was stomgeslaan oor die suiwerheid en nootvastheid van haar stem. Sy het hierdie een kans gehad om te beïndruk, en dit ten volle benut.

Wat is die lied wat jy met jou lewe sing? As jy die kans gegun word om te sing, wat sing jy? Is dit ’n loflied of ’n klaaglied of vergeet jy heeltemal om te sing? As die Here trompop in jou vasloop, skryf Hy die lied van jou lewe. Jou lied verander dan onmiddellik. Jy sal weet as die Here jou lied skryf, maar jy sal ook weet as jy geen bladmusiek het om van af te sing nie. As die Here die musiek van jou lewe skryf, sal jy nie kan ophou sing nie. Jy sal entoesiasties saam met dié sing wat hulle bladmusiek by die Here kry. 

In Lukas 1:46 en verder lees ons Maria se loflied nadat sy gehoor het sy is swanger. Sy erken voor God in hierdie loflied haar eie geringheid en nederigheid. Sy eer God dat Hy haar raakgesien het en magtige dinge aan haar gedoen het. Maria se lewenslied verander haar hele lewe. Die oomblik wat God in haar vasloop, weet sy dat haar eie lewe ingrypend verander het. Sy het God die eer daarvoor gegee en sy Naam met reg geëer!

Hoe klink jou lewenslied? Skryf jy nog hard self aan die lied van jou lewe of weet jy dat God al in jou vasgeloop het en dat jy van sy bladmusiek af sing?

GEBED: Here, ek wil sing! Ek wil graag u musiek sing. Amen.

 

Hierdie oordenking is geneem uit MET ’N LIED IN DIE HART deur Marietjie Joubert © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Met ’n Lied In Die Hart

Voel jou lewe vaal, uitsigloos en vervelig? Het jou lewenslied verdwyn of is die note daarvan net ’n eentonige getokkel? Kom ontdek weer jou lewenslied vol vreugde en dans in God se lig van liefde en verlossing. Hierdie 7-dag-plan is geneem uit Marietjie Joubert se dagboek MET ’N LIED IN DIE HART, en sal jou help om weer by Jesus se voete hoop en inspirasie te kry. Hierdie oordenkings is geneem uit MET ’N LIED IN DIE HART deur Marietjie Joubert © Christelike Uitgewersmaatskappy  http://www.cumbooks.co.za/  

More

Ons wil graag Marietjie en Joubert Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/