Onvoldoende antwoorde - Daar is nie antwoorde vir alle vrae nieVoorbeeld
Onvoldoende antwoorde (2)
Deur Johannes die Doper leer God die Vader vir ons dat sy paaie nie ons paaie is nie. Dat selfs die grootste van hulle wat uit ’n vrou gebore is (Lukas 7:28), moes sterf om plek te maak vir die Seun van God. In God se plan met ons en die wêreld, is daar altyd ’n gedeelte wat onverstaanbaar is. Daar sal altyd vrae wees waarop ons nie antwoorde sal kry nie — nie in hierdie lewe nie. Gelukkig is die mense wat nie aanstoot neem in sulke tye nie.
Uit die lewe van Johannes die Doper leer ons ook ‘n ander beginsel: As Jesus meer moet word, moet ek minder word en indien Jesus alles moet wees, moet ek sterf (Johannes 3:30). Dit is wat met Johannes die Doper gebeur het. In onbewaakte oomblikke bid ons soms: “Here Jesus, dat U alles in my lewe sal wees en ek niks.” Maar te dikwels bedoel ons dit nie regtig nie. As ons werklik bedoel wat ons sê, is die enigste manier om ons wens ‘n werklikheid te maak, om te sterf aan onsself. Dit is wat Johannes die Doper met sy woorde bedoel het. En die dood was die prys wat hy moes betaal.
Wanneer ek minder word, is daar minder drome, minder ambisie, minder planne, minder noemenswaardige betekenis. En wanneer ek sterf, is daar geen drome, geen planne, geen betekenis oor nie. Dit is by hierdie punt dat ons Johannes die Doper en Jesus se woorde wil herdefinieer en anders interpreteer: dit móét iets anders beteken, want ons wil nie sterf nie.
Daar sal áltyd onbeantwoorde gebede wees. Daar sal áltyd siekte, pyn, eensaamheid, lyding, vervolging en uiteindelik die dood wees. En steeds, vreemd en onverstaanbaar, sal die Here Jesus daardeur verhoog word.
Aangaande hierdie leesplan
Deur die loop van die lewe ervaar almal van ons pyn, verwerping, onsekerheid, konflik en teleurstelling. Dit lei onvermydelik tot vrae oor die lewe en die doel van die lewe. Daar is ongelukkig nie voldoende antwoorde op alle vrae nie. God gee egter meer as voldoende antwoorde in die Skrif sodat ons sinvol en met vreugde kan lewe.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com