Onvoldoende antwoorde - Daar is nie antwoorde vir alle vrae nieVoorbeeld

Onvoldoende antwoorde - Daar is nie antwoorde vir alle vrae nie

DAG 6 VAN 9

Onvoldoende antwoorde (6)

So dikwels, wanneer ons deur die lewe stap, bereik ons 'n punt waar ons dink: "Ek ken God, en ek weet hoe Hy werk. Ek ken sy weë." Ons kom vinnig by 'n plek aan waar ons glo dat ons vorige ervarings ons 'n goeie idee gee van God en sy manier van dinge doen. Maar dan, skielik, begin God anders werk. En dit is wanneer die geestelike lewe moeilik en verwarrend raak.

“Waar is God nou?” “Wat het ek verkeerd gedoen?” Dan besef ons dat ons nie so "geestelik" is as wat ons gedink het nie, nie soveel weet as wat ons geglo het nie, en nie soveel antwoorde op die uitdagings en vrae van die lewe het as wat ons gedink het nie. In sulke tye is die enigste pad vorentoe om aan onsself te sterf – ons opinies, begeertes en begrip van die Skrif en van God. Dan is dit tyd om jou Bybel oop te maak en die Heilige Gees te vra om jou 'n dieper begrip te gee van die Skrif, God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.

Watter rykdom en leiding is daar nie in die woorde van Paulus in Romeine 11:33-36 nie.

"O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,

hoe onnaspeurlik sy weë!

Wie ken die bedoeling van die Here?

Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ’n guns,

sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”

Ons moet afgemete oor elkeen van hierdie sinne dink. Die een ding wat ons as mense wil doen, is om God te verstaan. Dit is waarom ons soveel dogmas uitdink en formuleer. Ons wil God “klein genoeg” probeer maak sodat ons Hom kan verstaan want dan sal ons ook antwoord vir ons vrae hê. Maar wil ons regtig ‘n God hê wat ons “mak-gemaak” het met ons verstand? Word daardie God nie dan net so onbeholpe soos ons nie?

Dit is nie verkeerd om te probeer verstaan nie, maar daar moet daagliks ‘n doelbewuste keuse wees om God te vertrou. Hy is betroubaar. Hy is nooit onredelik nie. Niks wat ooit met ons sal gebeur, word nie eers in die hemel deeglik uitgemeet, afgeweeg en gevorm deur die onfeilbare, liefdevolle en genadige hande van God die Almagtige nie.

En gelukkig is mense wat nie aan God en sy weë aanstoot neem nie. Hy is die Onsienlike, Onveranderlike, Alleenwyse God. Hy sal nooit verander nie. Sy weë ook nie. Daar is niks meer onveranderlik en waarvan ons meer seker kan wees as van die onveranderlike Jesus nie – vol wysheid en soewerein, vol genade en waarheid, vol goedheid en liefde.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Onvoldoende antwoorde - Daar is nie antwoorde vir alle vrae nie

Deur die loop van die lewe ervaar almal van ons pyn, verwerping, onsekerheid, konflik en teleurstelling. Dit lei onvermydelik tot vrae oor die lewe en die doel van die lewe. Daar is ongelukkig nie voldoende antwoorde op alle vrae nie. God gee egter meer as voldoende antwoorde in die Skrif sodat ons sinvol en met vreugde kan lewe.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com