25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
Kersfees is familietyd, 'n tyd wat ons familielede en vriende sien wat ons nie noodwendig gereeld sien nie. Dit is wonderlik en nostalgies. Vir baie mense is dit ook 'n moeilike tyd, as jy dalk onlangs of dalk al 'n geruime tyd gelede 'n geliefde aan die dood afgestaan het. As jy nog wroeg met die rouproses, is dit 'n seer tyd. Dit is seer, want ons is so bewus van die afwesigheid van daardie persoon. Dit maak Kersfees soms bitter-soet.
Dit sal goed wees om te onthou – Jesus self sê: "Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het" (Johannes 10:10b NLV). Die tydelike aard van lewe op aarde en die hartseer wat ons soms op aarde beleef, word in kontras gestel met die ewige lewe wat ons in Jesus Christus ontvang. Die oorvloedige aard van die ewige lewe, wat nie na die dood begin nie, maar die dag wanneer jy Jesus as Koning en Here van jou lewe aanneem, moet vir jou uitstaan.
Alles op aarde, die mooi en ook die pyn en seer wat ons soms beleef, moet ons harte soveel meer op Jesus rig. Hy verlos ons van die pyn, die hartseer dra Hy saam met ons en die mooi op aarde, is maar 'n flou skaduwee van sy heerlikheid wat wag.
Die boodskap van Kersfees maak hierdie waarhede 'n werklikheid! Ons ontvang dit in geloof, dit is binne geloof se bereik. Die eerste koms van Jesus wat ons gedurende Kersfees vier, het dit 'n werklikheid gemaak en tot ons beskikking gestel. Die tweede koms van Jesus gaan dit ten volle onthul en in elke kind van God se lewe 'n werklikheid word.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/