25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
In 2 Korinthiërs 4:4 som Paulus die evangelie so op: "... Dit is die Goeie Nuus van die heerlikheid van Christus, Hy wat die ewebeeld van God is" en dan in vers 6: "So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal." Jy sien, ons het vir Jesus, die ewebeeld van God en ook God, in die aangesig van Jesus.
Jesus maak God die Vader aan ons bekend. Jy kan so daaraan dink, Hy stel Homself aan ons voor en ons kan in Hom sien wie en hoe God die Vader is.
Nie net stel Jesus God aan ons voor nie, Hy het ons ook voor God die Vader verteenwoordig. Hierdie waarheid is baie diep en baie omvangryk. Daar is baie daaroor te sê, maar kom ons fokus gou op hierdie een aspek. Jesus stel God aan ons voor. Hy maak Homself aan ons bekend, maar dit bly nie daar nie. Jesus maak ons deel van sy familie, want deur Hom word ons ook kinders van God. Dan is daar die vriendskap element. Jesus maak ons vriende van God.
Saam met sonde het daar baie goed gekom, die dood, die skeiding tussen God en mens en ook vyandskap. Dit is een definisie van sonde – vyandskap tussen God en mens. Jesus het daardie vyandskap uit die weg kom ruim en in plek daarvan vir God aan ons voorgestel en ook 'n ware vriendskap tussen ons en God kom bewerk.
Versoening beteken dat waar 'n verhouding versteur was, maar nou reggestel is. Dit is nie nét om te vergewe nie. Vergifnis is om dit wat verkeerd gedoen is, te laat vaar. Vergifnis alleen, herstel nie op sy eie die verhouding nie. Versoening het vergifnis nodig en sluit vergifnis in, sodat dit die verhouding in 'n diep en hegte band kan herstel.
Jesus het die vergifnis van ons sonde bewerk. Hy het daarvoor boete gedoen. Dit beteken Hy het die prys vir ons sonde betaal, maar Hy het ook daardeur ons verhouding met God die Vader herstel. Hy het versoening bewerk sodat ons nou vriende van God kan wees.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/