25 Dae tot KersfeesVoorbeeld

25 Dae tot Kersfees

DAG 24 VAN 25

Jesus het gekom om die werk van die duiwel te vernietig! Jesus het gekom om die prys vir sonde te betaal deur sy eie lewe as losprys te gee. Jesus het die duiwel uitoorlê deur die prys vir sonde te betaal, maar ook deur sy opstanding het Hy die dood oorwin. Die dood word genoem "die angel van sonde", maar selfs die angel is vernietig. Vir 'n kind van God, beteken die dood nou iets anders. Die dood is nie meer iets om te vrees nie, nie meer 'n onseker einde nie, die dood is 'n deur na God die Vader toe wanneer ons in ewigheid saam met Hom sal wees.

Jesus het ook om 'n ander rede gekom. Die tweede rede is duidelik in 1 Johannes 2:1-2 (NLV): "My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie. As iemand egter sonde doen, ons het ’n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom."

Jesus as ons versoeningsoffer, verwys na die feit dat Jesus in ons plek en vir ons sonde gesterf het. Hy was self die offer wat ons weer met God die Vader versoen het.

Ons sonde is betaal. Ons is uit die mag van sonde verlos. Wat nou as ons weer sondig?

Jesus word ook hiermee ‘n "Helper" genoem. "Helper" is hoe Jesus die Heilige Gees in die evangelie van Johannes voorstel. Nou beskryf Johannes vir Jesus as ons Helper. Die woord "helper" het 'n ryk betekenis. Dit beteken iemand wat langs jou staan om jou by te staan of te help. Dit kan ook 'n regsverteenwoordiger soos 'n advokaat wees wat jou verteenwoordig.

Jesus word voorgestel as die advokaat wat ons in die hemelse hof voor God die Vader verteenwoordig. Wat is sy argument in hierdie hof wanneer ek en jy weer sondig? Dit is ... "Vader U is die hemelse Regter en u kinders op aarde word deur die duiwel aangekla. Hy is die aanklaer omdat hulle dikwels nog met sonde wroeg. Hulle is skuldig, MAAR onthou, ek het reeds namens hulle die prys vir hulle sondes, ál hulle sondes, betaal. Om hulle nou te straf sal beteken U straf sondes dubbeld. As 'n regverdige regter kan U dit nie doen nie. Laat hulle gaan, vergewe hulle en versterk hulle met die Heilige Gees sodat hulle nie sal wil sondig nie. Help hulle om ook so in hulle verhouding met U te groei dat hulle minder sondig en meer soos Ek, u Seun, sal word."

Dag 23Dag 25

Aangaande hierdie leesplan

25 Dae tot Kersfees

Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/