Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld
Eer aan God
Lees: Lukas 2:9-14; Johannes 1:14; Hebreërs 1:1-3
SOAP: Johannes 1:14
“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien – die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”
Oordenking
God se heerlikheid word dikwels in die Bybel genoem en verwys na die sigbare vertoning van sy eie uitnemendheid, sy heiligheid. Deur die geboorte van Jesus kon die engele God se heerlikheid duidelik sien. Hulle het besef dat hierdie plan van verlossing God se heerlikheid meer gedemonstreer het as enigiets wat Hy ooit tevore gedoen het.
Elkeen van God se eienskappe word perfek uitgebeeld en verheerlik in die lewe van Jesus. Ons kan God se krag ten volle sien omdat Hy Jesus se goddelike en menslike natuur perfek in een persoon verenig het. Hy wys ons ook dat Hy – en Hy alleen – in staat is om mense te red en hul sondige natuur te verander. Ons kan God se geregtigheid sien, dat Hy nie enige sonde (maak nie saak hoe klein nie) ongestraf laat bly nie. Hy het vir ons gewys hoe erg Hy sonde haat toe Hy sy geliefde Seun 'n verskriklike dood laat sterf het. Ons kan sien dat sy woorde nooit faal nie. Alles wat Jesus gedoen het, was in vervulling van God se beloftes.
Maar bowenal, deur Jesus te stuur, demonstreer God sy liefde en genade. God het aan die engele en die hele mensdom gewys dat Hy 'n hart van liefde het, selfs teenoor diegene wat teen Hom sondig. Deur dit te doen, het Hy vir ons die grootste geskenk moontlik gegee. Hy het Homself aan ons gegee. Die engele verheug hul daarin om so 'n liefdevolle en genadige God te dien.
God vind vreugde daarin om sy heerlikheid aan ons te toon. Net soos die engele, sal die mate waarin ons sy heerlikheid sien, die maat wees waarin ons self met vreugde gevul is. Dit is waarvoor God ons gemaak het, om Hom te verheerlik en om Hom vir ewig te geniet. Wanneer God Homself verheerlik, is dit tot ons grootste vreugde en voordeel. Die engele se geluk – sowel as ons eie – kom van die aanskoue van God se heerlikheid.
Gebed
Here, laat my u heerlikheid meer en meer sien. Mag my hele lewe u Naam verheerlik. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/