Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 28 VAN 29

Die lied van die herders

Lees: Lukas 2:15-20; Filippense 2:9-11; Openbaring 15:1-4

SOAP: Filippense 2:9-11

“Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Oordenking

Die heerlikheid wat die herders in die veld gesien het, het nie baie lank gehou nie. Toe die engele teruggaan hemel toe, was dit weer donker. Die nag was stil, en die skape het aanhou wei. Hierdie mans se lewens wasegter nie meer dieselfde nie. Nadat hulle gegaan het om Jesus te sien, word ons vertel dat hulle “teruggekeer het en God verheerlik en geprys het vir alles wat hulle gehoor en gesien het”. God se heerlikheid het in hulle harte gekom, net soos dit in die hart van elke Christen kom.

Ons het vier weke saam met die Adventsliedere van die evangelie van Lukas gejuig. Ons het by Sagaria, Simeon, Maria en die engele geleer. Saam met hulle het ons van God se heerlikheid gesien wanneer ons kyk na sy wonderlike eienskappe, sy heiligheid, krag, tere barmhartigheid en deernis. Mag ons hierdie heerlikheid onthou en meer en meer groei in die kennis van Hom. Mag ons dit doen met ‘n loflied in ons harte.

Mag ons ware vreugde ervaar in ons Verlosser, wat op daardie eerste Kersfees meer as 2 000 jaar gelede gekom het. Ons weet dat Hy die belangrikste werk gedoen het by sy eerste koms, deur ons sondes weg te neem en ons vyand te verslaan.

Mag ons Hom vertrou, die Een wat daagliks aanhou om na ons toe te kom in al ons bekommernisse en pyn. Hy is ons beste vriend, ons Vredevors en ons trooster. Ons kan ons harte vir Hom uitstort en na Hom kyk vir hulp.

Mag ons geduldig wag vir Hom wat binnekort in mag en majesteit sal terugkom. Die volgende keer wanneer Hy kom, sal Hy almal oordeel wat sy genade verwerp het, wat te trots en selfversorgend was om na Hom te draai. Hy sal sy eie neem, dié wat na hom gevlug het vir skuiling, om vir ewig sy heerlikheid in die hemel te geniet.

Kom ons leef tot dan soos die herders en vertel baie ander mense van Jesus, die wonderlike Verlosser wat ons so liefgehad het dat Hy die hemel verlaat het om na ons te kom.

Gebed

Here Jesus, dankie dat U daardie eerste Kersfees na ons toe gekom het. Laat u heerlikheid vandag en in hierdie komende jaar helder in my hart skyn. Terwyl ek wag vir u glorieryke terugkeer, laat ek 'n getuie wees en ander van U vertel. Amen.

Dag 27Dag 29

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/