Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
Lewe in heiligheid, geloof en liefde (Romeine 12:1-21)
Die negende hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 12:1-15:13 en handel oor hoe al die gelowiges uit die Jode en die nie-Jode moet leef. Hy brei in tien perspektiewe daarop uit waarin hy twee keer oor die liefde handel.
Op grond van God se barmhartigheid word gelowiges opgeroep tot ‘n heilige lewe (12:1-2)
Die eerste perspektief is dat alle gelowiges, op grond van God se barmhartigheid, persoonlik opgeroep word tot ‘n heilige lewe.
Verandering kom deur die werk van die Gees. Dit het ons geleer in hoofstuk 8. ’n Wet kan jou nie verander nie, net ’n verhouding met God waarin die Gees ons lei om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir God.
Die eerste plek waar ons moet verander, is in hoe ons ons liggame hanteer. Ons moet ons liggame beskikbaar te stel vir God as 'n offer wat lewend en heilig is, en vir Hom aanneemlik. Die agtergrond hiervoor is waarskynlik die Leviete wat as ‘n “beweegoffer” aan die Here gewy is (Num. 8:5-26). Dws, hulle is nie op die altaar geplaas nie, maar lewend aan die Here toegewy om geheel en al in God se diens te wees.
Die tweede plek waar ons moet verander, is in ons innerlike, ons denke. Let op, dit is nie net in ons hart (geloof) en met ons mond (getuienis) nie, soos hoofstuk 10 op die tafel gesit het, waar die verandering kom nie. Ons het ook ’n kopskuif (gedagtes) nodig waar ons waak daarteen dat die wêreld se druk op konformering ons lewens só in beslag neem, en so in sy vorm druk, dat ons nie meer ’n lewende offer is en vir God lewe nie.
Ons moet anders dink as die sondige wêreld en nie konformeer aan die manier van leef wat die media en vermaaklikheidswêreld aan ons opdis nie.
Ons moet deur die vernuwing van ons denke groei in ons onderskeiding van wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is en Hom gehoorsaam.
Dit is immers waarmee die Gees ons help, om die “praktyke van die liggaam” dood te maak (Rom. 8:13). Dit is waar die verandering begin sodat ons onder sy leiding kan leef.
Dieselfde orde word hier gevolg as in die openbaarmaking van die sondes waaraan God die mensdom oorgegee het in Romeine 1. Die sondes van die liggaam, veral seksuele sondes, word eerste genoem (1:24-27), eers daarna die sondes wat met ‘n “verwerplike denkwyse” te make het (1:28-32).
Ten opsigte van albei – liggaam en denkwyse – het ons verandering en vernuwing nodig.
Gebruik die gawes wat God gee om mekaar beskeie en verstandig, doelgerig en met integriteit te bedien (12:3-8)
Die tweede perspektief is dat alle gelowiges opgeroep word om die gemeenskap van gelowiges te dien met hulle gawes, beskeie en verstandig (die Griekse woord sōphroneinword in Engels met “sensible” of “sober discernment” vertaal).
Beskeidenheid beteken dat ons nie meer moet dink van onsself as wat ons behoort nie. Verstandigheid beteken dat ons ons gawes moet aanwend volgens die maat van geloof wat God aan ons elkeen gegee het. Elkeen van ons moet dit self beoordeel.
Die gawes wat ons almal het, verskil van mekaar volgens die genade wat God aan ons gegee het.
Paulus beklemtoon met die eerste vier gawes wat hy noem dat dit doelgerig in die gemeenskap van gelowiges aangewend word:
- Die gawe van profesie moet in lyn wees met die geloof van die persoon (vgl. vers 3) sowel as in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.
- Die gawe van diens moet vir hulpverlening aan ander ingespan word.
- Die gawe van onderrig moet vir onderrig van ander ingespan word.
- Die gawe van bemoediging moet vir bemoediging van ander ingespan word.
Met die laaste drie gawes beklemtoon Paulus die integriteit waarmee die gawes aangewend moet word:
- Wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen, dws sonder bybedoelings.
- Wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen, d.w.s. met ywer en motivering.
- Wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen, dws sonder om te kla.
Lewe in liefde teenoor alle mense en dien die Here met volharding (12:9-21)
Die derde perspektief is om in alle verhoudings in die gemeenskap van die gelowiges sowel as in die samelewing in liefde te leef en die Here te dien.
Let op hoe die ongeveer 30 opdragte hier van hoek tot kant met verhoudings te make het, uiteraard steeds met medegelowiges (Rom. 12:10,13,15,16), maar ook met vervolgers (Rom. 12:14) en vyande (Rom. 12:19-21), kortom alle mense in die wêreld (Rom. 12:17,18).
Paulus bring ook die verhouding met God in spel waarin toewyding en gebed ’n belangrike rol speel (Rom. 12:11-12). Die laaste paar verse in Romeine 12:19-21 beklemtoon die vertroue op God wat regverdig sal oordeel (vgl. Deut. 32:35) en transformerend sal optree in ons verhouding met vyande (vgl. Spr. 25:21-22).
God is regverdig EN kan die kwaad deur die goeie oorwin.
Boodskap en betekenis
In Romeine 12 roep Paulus gelowiges op om in heiligheid, geloof en liefde te leef, geïnspireer deur God se barmhartigheid. Hy beklemtoon die noodsaak van verandering. Hulle liggame moet beskikbaar gestel word as lewende offers aan God. Hulle denke moet vernuwe word om God se wil te onderskei en gehoorsaam.
Hulle gawes moet beskeie, verstandig, doelgerig en met integriteit in diens van die gemeenskap aangewend word, volgens die geloof en genade wat aan elkeen gegee is. Paulus beklemtoon ook liefde as 'n sentrale beginsel in alle verhoudings – binne die geloofsgemeenskap, sowel as teenoor vervolgers en selfs vyande. Deur vertroue in God, gebed en toewyding kan die kwaad oorwin word met die goeie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com