Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 22 VAN 25

Aanvaar mekaar en streef na onderlinge vrede (Romeine 14:1-23)

In hierdie hoofstuk gee twee verdere perspektiewe oor die praktyk van die Christelike lewe om mekaar te aanvaar en na onderlinge vrede te streef. Hy spreek daarmee waarskynlik ’n spesifieke probleem in die gemeente van Rome aan, die konflik tussen die sterkes en swakkes in die geloof. Hy roep gelowiges in die sewende perspektief meer in die algemeen op om nie op mekaar neer te sien of mekaar te veroordeel nie (14:1-12). Hy roep hulle in die agtste perspektief meer spesifiek op om niemand anders te laat struikel oor wat jy eet en drink nie (14:13-23). Aanvaarding is beter as argumentering.

Moenie op mekaar neersien of mekaar veroordeel weens verskillende sienings oor kos en heilige dae nie (14:1-12)

Let op hoe Paulus hom hier hoofsaaklik rig tot die sterkes in geloof, en uitspel dat hulle diégene wat in geloof swak is, moet aanvaar, sonder om met hulle te stry oor opvattings wat van die sterkes s’n verskil. Dit beteken natuurlik nie dat hulle ander gelowiges se opvattings doodgewoon voor die voet moet aanvaar nie, maar dat hulle die swakkes moet aanvaar.

Die swakkes in die geloof waaroor Paulus hier skryf, is mense wat bv. net groente eet (Rom. 14:2), of een dag belangriker as ander reken (Rom. 14:5). Die sterkeres in die geloof, waaronder Paulus natuurlik self tel (vgl. Rom. 15:1), wat alles eet of alle dae as gelykwaardig beskou, moet nie op die swakkes neersien nie, en, die swakkes moet die sterkeres in die geloof nie veroordeel nie.

In 1 Korintiërs 8 en 10:14-33 het Paulus natuurlik oor ’n soortgelyke probleem geskryf, hoewel dit in Korinte meer oor die wyse waarop heidense perspektiewe op feesvieringe en dies meer hanteer moes word. Hier gaan dit eerder oor hoe die Joodse perspektiewe op feesvieringe hanteer moet word, soos gesien kan word uit die vermelding van hoe mense oor die dae van die week gedink het.

Almal moet egter alles wat hulle doen tot eer van die Here doen, en toegelaat word om dit te doen, want ons is aan Hom, en alleen aan Hom, rekenskap verskuldig. Elkeen moet net in sy eie gemoed van sy standpunt oortuig wees tot eer van die Here en met danksegging.

Let op hoe Paulus hier die regterstoel van God as motivering inbring om elkeen op te roep om sy eie doen en late te ondersoek, eerder as om ander s’n met ’n fynkam deur te gaan.

Moenie dat iemand anders struikel oor wat jy eet en drink nie (14:13-23)

Die agste perspektief is dat jy in die proses sorg moet dra dat niemand struikel oor wat jy eet en drink nie, want die belange van medegelowiges moet swaarder weeg as jou eie opvattings.

Veral omdat dit hier spesifiek oor goed gaan wat meer op die periferie lê soos wat jy eet, drink, en vier. ’n Mens moenie aanstoot gee, of ander tot ’n val bring nie, al is daar niks intrinsiek verkeerd met kos, drank en feeste per se nie. So ‘n optrede trek ’n streep deur die liefde.

Let op hoe Paulus die persoonlike lewe voor God en in die Gees koppel aan die gesamentlike lewe in die liggaam van Christus. Deur met oorleg op te tree teenoor ons medegelowiges, terwyl ons ook sonder om te skroom aan ons eie oortuigings mag en moet vashou, sorg ons dat mense gehoorsaam aan God kan lewe en sy vrede en vreugde deur die Gees in die uitbreiding van die koninkryk kan beleef.

Hou dus vas aan die oortuiging wat jy by jouself voor God het, want as jy twyfel, en nie vanuit ‘n geloofsoortuiging optree nie, is dit vir jou sonde.

Boodskap en betekenis

In Romeine 14 moedig Paulus gelowiges aan om mekaar te aanvaar en na vrede in die geloofsgemeenskap te streef, ondanks verskille in opinie oor sekondêre sake soos kos, drank en heilige dae. Hy waarsku die sterkes in geloof om nie op die swakkes neer te sien nie, en die swakkes om nie die sterkes te veroordeel nie, aangesien elkeen rekenskap aan God moet gee. Paulus beklemtoon dat alle dade tot eer van die Here en met danksegging moet geskied.

Hy roep almal op om niemand anders te laat struikel deur eie oortuigings op ander af te dwing nie, selfs as dié sake intrinsiek nie verkeerd is nie. Deur liefde en respek vir ander se gewetens en oortuigings te toon, bou gelowiges aan die vrede, vreugde en gehoorsaamheid wat die Gees in die geloofsgemeenskap bring. Persoonlike oortuigings moet altyd met geloof en sonder twyfel voor God gehandhaaf word.

Dag 21Dag 23

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com