Wegkruipplek OordenkingVoorbeeld

Hiding Place Devotional

DAG 2 VAN 10

Voorbereiding vir die Dag

Jy neem 'n paar oomblikke uit jou oggend om sowaar te gaan sit terwyl jou kinders ontbyt eet en maak jou foon oop om vlugtig deur die foto's op Instagram te kyk. Die pragtige, opgesmukte foto's vul jou skerm. Jy sien 'n vyf-gang maal, kinders wat deur 'n ring getrek kan word en 'n silwerskoon huis vol pragtige blomme. Terselfdertyd loer jy af na die koppie koue koffie in jou hand, jou hemp vol babaspoeg en vingerverf. Oorkant jou aan tafel is jou vierjarige besig om sy joghurt vir haarjel aan te wend en daar is meer van die baba se eiers op die vloer as in haar mond.

Jy weet nie of jy moet lag of huil oor jouself en die feit dat jou lewe geensins ooreenstem met daardie foto's nie. Jou idee van maaltyd beplanning is om twee bokse visvingers te koop en 'n skoon huis beteken jy kan deur die sitkamer loop sonder om op 'n lego te trap.

Alhoewel sosiale media ongelooflik handig kan wees, kan dit ook nare gevoelens van selfvertwyfeling, vergelyking en onrealistiese verwagtinge skep. Die Satan moet seker gek wees oor Instagram as mens in ag neem wat dit aan die harte en gedagtes van vroue kan doen!

Wat daarvan as — in plaas daarvan om jouself vandag te bewapen met jaloesie, vergelyking en selfvertwyfeling — jy vandag God se wapenrusting aantrek? In plaas daarvan om jouself in 'n gat van "wat behoort te wees" in te grawe, om eerder sterk te staan in die Here en in wie HY sê jy is?

Aandag al die tipe A-mammas daar buite: wat daarvan ons pak al die maaltyd planne, die mooi beplanners en die begrotingslêers bietjie weg en ons gebruik net die Woord van God om vir ons dag te beplan? KAN JY JOU VOORSTEL? Ek preek nou vir die bekeerdes, want my beplanner is my derde arm. Dit is ongelooflik hoeveel beter ek vir my dag voorbereid kan wees as ek eers God se wapenrusting aantrek en sy teenwoordigheid opsoek voordat ek my na my beplanners en mooi kleur-gekoördineerde lêers wend.

Kom ons vind ons voorbereiding vir die dag net in Hom. Slegs dan sal ons die vyand van vergelyking en jaloesie kan afweer. Wanneer jy Instagram oopmaak met 'n hart wat op Hom gerig is en jy kyk na hoe ander leef deur die filter van Christus in plaas van die filter van jaloesie, dan sal jy God se pragtige skepping raaksien.
Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Hiding Place Devotional

Is daar nie tye wanneer jy as 'n ma net wil wegkruip nie ... byvoorbeeld in die spens met 'n sjokolade stafie?  Weggesteek van die storms van die lewe en die gewig van verantwoordelikhede. Weggesteek van die geraas. Weggesteek van die roetine. Weggesteek van ons taak-lysies. Weggesteek van ons titel. Net weggesteek en alleen met Christus waar ons kan hoor hoe Hy ons by die naam roep. Weggesteek, waar ons sy oorwinningsliedere kan toelaat om ons ore te vul.

More

We would like to thank Thrive Moms for providing this plan. For more information, please visit: www.thrivemoms.com