Koning Salomo het baie buitelandse vroue liefgekry. Benewens die farao se dogter het hy vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en uit die Hetiete gehad. Die HERE het duidelik vir die Israeliete gesê: “Julle mag nie met hierdie nasies ondertrou nie. Hulle sal julle verlei om hulle gode te aanbid.” Nogtans het Salomo op hulle verlief geraak. Hy het 700 vroue van koninklike afkoms gehad en 300 byvroue. Hierdie vroue het hom toe inderdaad verlei. Toe Salomo oud geword het, het hulle hom verlei om ander gode te dien. Hy het nie meer die HERE sy God met soveel toewyding gedien soos sy pa, Dawid, gedoen het nie. Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike godin van die Ammoniete, aanbid. Dit wat Salomo gedoen het, was verkeerd vir die HERE. Hy het nie meer die HERE met volle oorgawe gedien soos sy pa, Dawid, nie. Op die heuwel oos van Jerusalem het hy selfs ’n hoogte vir Kemos, die walglike god van Moab, gebou, asook een vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. Salomo het sulke hoogtes vir al sy buitelandse vroue gemaak sodat hulle daar wierook kon brand en offers aan hulle gode kon bring.
Die HERE was baie ontevrede met Salomo omdat hy die HERE, die God van Israel wat twee keer aan hom verskyn het, verlaat het. Hy het Salomo uitdruklik gewaarsku om nie ander gode te dien nie. Nogtans het Salomo nie na die bevele van die HERE geluister nie. Die HERE sê toe vir hom: “Aangesien jy die verbond met My verbreek het en ongehoorsaam was aan my opdragte, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou afskeur en dit vir een van jou onderdane gee. Ter wille van jou pa, Dawid, sal Ek dit nie in jou leeftyd doen nie, maar wel wanneer jou seun koning geword het. Ek sal ook nie die hele koninkryk afskeur nie. Ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek uitgekies het, sal Ek wel een stam vir jou seun laat oorbly.”
Toe het die HERE Hadad die Edomiet, ’n familielid van die koning van Edom, aangepor om teen Salomo in opstand te kom. Jare vantevore het Dawid saam met Joab, die opperbevelhebber van sy leër, na Edom toe gegaan om dié wat gesneuwel het, te begrawe. Dit was nadat die leër van Israel feitlik elke manlike persoon in Edom doodgemaak het. Dit het Joab en sy leër ses maande geneem om al die mans dood te maak. Maar Hadad, wat toe nog maar ’n jong seun was, het saam met sommige Edomiete uit die hofhouding van sy pa in die rigting van Egipte gevlug. Hulle het deur Midian na Paran toe getrek. Daar het nog mense by hulle aangesluit. Hiervandaan het hulle na Egipte toe gegaan, na die farao, die koning van Egipte. Hy het vir hulle woonplek, kos en grond gegee.
Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy sy skoonsuster, die suster van sy vrou koningin Tagpenes, vir hom as vrou gegee het. Sy het vir Hadad ’n seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom saam met die farao se eie kinders in die farao se paleis grootgemaak.
Toe Hadad in Egipte hoor dat sowel Dawid as Joab, die opperbevelvoerder van sy leër, dood is, sê hy vir die farao: “Laat my gaan sodat ek na my eie land kan terugkeer.”
“Hoekom?” vra die farao hom. “Kom jy hier iets kort dat jy nou wil teruggaan?”
“Nee, niks is verkeerd nie,” antwoord hy. “Maar laat my tog teruggaan.”
God het ook Reson, seun van Eljada, en onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba, aangehits om teen Salomo in opstand te kom. Reson het vir die koning gevlug. Hy het ’n klompie manne om hom bymekaargemaak en die leier van die bende geword. In die tyd toe Dawid die magte van Soba verslaan het, het Reson en sy mense na Damaskus toe gevlug. Hy het daar gaan woon en koning geword. Solank Salomo geleef het, was Reson ’n vyand van Israel. Dit was benewens die kwaad wat Hadad aangerig het. Reson was koning van Aram en het Israel intens gehaat.
Daar was ook nog ’n ander opstandeling. Sy naam was Jerobeam seun van Nebat, een van Salomo se amptenare. Hy was ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee. Sy opstand het soos volg verloop: Salomo was besig om die terras te bou om die opening in die muur van die Dawidstad toe te maak. Jerobeam was ’n baie bekwame man sodat Salomo hom in beheer geplaas het van die dwangarbeid uit die stamme van Efraim en Manasse.
In hierdie tyd het die profeet Agija uit Silo Jerobeam net buite Jerusalem langs die pad teëgekom. Agija het ’n nuwe mantel aangehad. Die twee van hulle was alleen in die veld. Agija vat toe die nuwe mantel en skeur dit in twaalf stukke. Toe sê hy vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want die HERE, die God van Israel sê: ‘So gaan Ek die koningskap van Salomo afskeur en tien van die stamme vir jou gee. Ek sal een stam vir hom laat oorbly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het. Dit sal gebeur omdat Salomo My verlaat het en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy leef nie meer volgens my wil nie en hy doen wat nie vir My reg is nie. Hy kom nie my gebooie en voorskrifte na soos sy pa, Dawid, gedoen het nie.
“‘Tog sal Ek nie die hele koningskap van hom wegneem nie. Ter wille van my dienaar Dawid, die een wat Ek gekies het en wat my bevele en gebooie gehoorsaam het, sal Ek Salomo toelaat om vir die res van sy lewe te regeer, maar Ek sal die koninkryk van sy seun wegneem en tien van die stamme vir jou gee. Sy seun sal een stam behou sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek gekies het ter ere van my Naam. Ek sal jou koning maak volgens jou hartsbegeerte sodat jy oor Israel kan regeer. As jy vir My luister en volgens my wil lewe en doen wat Ek as reg beskou; as jy my gebooie en bepalings gehoorsaam soos my dienaar Dawid gedoen het, dan sal Ek altyd by jou wees. Ek sal ’n blywende koningshuis vir jou oprig soos Ek vir Dawid gemaak het en Ek sal Israel vir jou gee. Maar die nageslag van Dawid sal Ek verneder weens die sonde van Salomo, hoewel dit nie vir altyd sal wees nie.’”
Salomo het Jerobeam probeer doodmaak, maar hy het na koning Sisak van Egipte gevlug en daar gewag tot Salomo se dood.