Salomo was lief vir buitelandse vroue en hy het baie van hulle gehad. Behalwe die dogter van die Egiptiese koning was hy ook met vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en die land van die Hetiete getroud. Salomo het vir hulle lief geraak en met hulle getrou al was die Here daarteen gekant. Hy het Israel altyd gewaarsku om nie met dié vroue te trou nie. Hulle kon Israel baie maklik van die Here af wegrokkel en hulle ander gode laat aanbid.
Salomo het met 700 prinsesse van ander lande getrou en dan het hy ook nog 300 byvroue gehad. Hulle het sy hart van die Here af laat wegdraai. Teen die tyd dat hy ’n ou man was, het hy lankal reeds ’n spul vreemde gode aanbid. Salomo het toe nie meer die Here so liefgehad soos sy pa, Dawid, nie. Hy het selfs vir Astarte, die godin van Sidon, en vir Milkom, die aaklige god van Ammon, aanbid.
Salomo het teen die Here gesondig. Hy was nie so getrou aan die Here soos sy pa, Dawid, nie.
Op die berg oos van Jerusalem het hy ’n plek gebou waar Kemos, die verskriklike god van Moab, en Milkom, daardie aaklige god van Ammon, aanbid kon word. Hy het ook plekke gebou waar sy buitelandse vroue vir hulle gode offers kon bring en wierook kon brand.
Die Here was diep teleurgesteld in Salomo en het kwaad geword vir hom. Alhoewel die Here twee keer aan Salomo verskyn het, het hy die Here nie meer liefgehad nie. Salomo was glad nie meer in die Here geïnteresseerd nie; hy het sy hart vir die ander gode gegee. Die Here was seergemaak en kwaad vir Salomo. Hy het toe vir hom gesê: “Jy het doelbewus jou verhouding met My verbreek. Jy wil nie meer my gebooie gehoorsaam nie. Ek gaan daarom jou hele koninkryk van jou af wegneem en dit vir een van jou amptenare gee. Ter wille van jou pa, Dawid, sal ek dit nie nou doen terwyl jy nog leef nie. Dit sal gebeur wanneer jou seun begin regeer. Ek sal egter nie die hele koninkryk wegneem nie. Ek sal een stam, die stam van Juda, ter wille van Dawid en ter wille van Jerusalem, waarin Ek aanbid word, laat oorbly.”
Deur die Here se toedoen het Hadad teen Salomo in opstand gekom. Hadad was deel van die koningshuis in Edom. Lank gelede, toe Dawid Edom oorwin het, het Joab, die hoof van sy leërmag, daarheen gegaan en al die mans doodgemaak en begrawe. Joab en die hele Israel het ses maande lank ’n guerrilla-oorlog teen Edom gevoer en hulle weermag vernietig. Hadad en ’n klompie van sy pa se werkers het egter daarin geslaag om na Egipte te ontsnap. Hadad was in daardie stadium nog maar ’n kind. Hulle het deur Midian by Paran aangekom. Daar het ander mense ook by hulle aangesluit en hulle is saam daar weg. Toe hulle in Egipte aankom, is hulle reguit na die koning toe. Die koning het vir Hadad ’n stuk grond met ’n huis gegee en hom van kos voorsien.
Hadad en die koning het goeie vriende geword. Die koning het selfs sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes, vir Hadad as vrou gegee. Sy het vir Hadad ’n seun gegee wat hy Genubat genoem het. Genubat is deur die koningin grootgemaak en het net soos die ander seuns van die koning geleef.
Toe Hadad hoor dat Dawid en Joab albei dood is, het hy vir die koning gesê: “Laat my asseblief na my land teruggaan.”
“Hoekom wil jy teruggaan?” het die koning verbaas gevra. “Het ek dan iets verkeerds gedoen?”
“Nee,” het Hadad gesê, “laat my asseblief net gaan.” Hadad is daar weg. Hy het toe die koning van Edom geword. Hadad het Israel gehaat.
Reson seun van Eljada het hom ook teen Salomo verset. Reson het vir koning Hadad-Eser van Soba gewerk, maar op ’n dag het hy in opstand gekom en is van die koning af weg.
Dit het in die tyd gebeur toe Dawid vir Hadad-Eser verslaan en sy Siriese bondgenote vernietig het. Reson en sy manne is toe vinnig daar weg en het in Damaskus gaan bly. Daar het hulle hom koning van Sirië gemaak. Reson het Israel gehaat en was ’n geswore vyand van Salomo.
Nog iemand wat teen Salomo gerebelleer het, was Jerobeam. Hy was die seun van Nebat, ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee.
Salomo het die oostekant van Jerusalem met grond opgevul en was besig om die stadsmuur te herstel. Jerobeam het ook daar gewerk. Hy was jonk, ambisieus en hardwerkend. Salomo het dit raakgesien en Jerobeam oor die dwangarbeiders aangestel. Hy moes die mense van Manasse en Efraim (dit is die Josefstam) dwing om vir Salomo te werk.
Op ’n dag was Jerobeam uit Jerusalem na die noorde op pad toe hy skielik die profeet Agija van Silo raakloop. Hulle het lank alleen in die oop stuk veld gestaan en gesels. Agija het sy nuwe mantel uitgetrek en dit in twaalf stukke begin skeur. “Vat vir jou tien stukke,” het hy vir Jerobeam gesê. “Die Here, die God van Israel, sê vandag vir jou: ‘Ek is op die punt om Salomo se koninkryk van twaalf stamme van hom af weg te skeur en tien daarvan vir jou te gee. Salomo se koninkryk sal dan uit net een stam, die stam van Juda, bestaan. Ter wille van Dawid, en omdat Ek Jerusalem bo alle plekke gekies het om in te woon, sal Salomo se nageslag oor hierdie een stam regeer. Ek doen al hierdie dinge omdat Salomo My nie meer liefhet nie. Hy het ander gode begin aanbid. Gode soos Astarte die godin van Sidon, Kemos die god van Moab en Milkom die god van Ammon. Salomo het nie meer na My geluister nie. Hy het nie soos sy pa, Dawid, volgens my wil geleef nie. Terwyl Salomo nog leef, gaan daar niks gebeur nie. Sy koninkryk sal nie tydens sy regering verdeel word nie. Ek doen dit ter wille van Dawid wat Ek gekies het, wat vir My lief was en wat na my gebooie en wette geluister het. Na Salomo se dood sal Ek die koninkryk van sy seun Rehabeam verdeel en tien stamme vir jou gee. Een stam sal nog oorbly en Salomo se nageslag sal daaroor regeer. Soos Ek belowe het, sal daar altyd een van Dawid se nageslag in Jerusalem regeer. Jerusalem is die stad wat Ek gekies het en dit is die plek waar Ek aanbid word.
“‘Jerobeam, Ek sal jou die koning van Israel maak en jy sal oor die hele gebied van die tien stamme regeer. As jy mooi na My luister en volgens my wil leef, sal dit met jou goed gaan. As jy ’n koning soos Dawid is, sal Ek altyd naby aan jou wees. Ek sal jou koningskap voorspoedig maak en Ek sal sorg dat iemand uit jou nageslag altyd oor Israel regeer. Ek sal vir jou doen wat Ek vir Dawid gedoen het. Salomo se lewe het begin skeefloop en daarom gaan Ek die nageslag van Dawid straf. Ek sal egter nie vir altyd vir hulle kwaad bly nie.’”
Toe Salomo hoor wat met Jerobeam gebeur het, wou hy hom net daar doodmaak. Maar Jerobeam het na koning Sisak van Egipte toe gevlug. Daar het hy gebly totdat hy gehoor het Salomo is dood.