Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad. Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan nie, en julle mag nie toelaat dat hulle met julle omgaan nie, want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid.”
Salomo het egter juis op hierdie vrouens verlief geraak.
Hy het sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue. Dit was sy vrouens wat hom verlei het. Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie. Hy het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete, gedien.
Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie aan die Here getrou gebly soos Dawid, sy pa, nie.
Salomo het selfs op die berg teenoor Jerusalem 'n hoogte gebou vir die diens van Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. Dieselfde ding het hy gedoen vir al sy uitlandse vrouens, sodat hulle wierook kon brand en offers kon bring vir hulle gode.
Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie. Tevore het God twee keer aan hom verskyn en hom uitdruklik beveel dat hy nie ander gode mag dien nie. Salomo het hom egter nie gehou aan die opdrag van die Here nie. Daarom het die Here nou vir hom gesê: “Omdat dit so is dat jy jou nie hou aan my verbond en aan die voorskrifte wat Ek jou gegee het nie, sal Ek die koningskap van jou afskeur en vir 'n onderdaan van jou gee. Ter wille van jou vader Dawid sal Ek dit wel nie tydens jou lewe doen nie, maar Ek gaan dit tydens jou seun se lewe doen. Ek sal ook nie die hele koninkryk wegneem nie, maar ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ék uitverkies het, gaan Ek een stam vir jou seun laat oorbly.”
Die Here het iemand beskik wat teen Salomo in opstand gekom het. Hy was Hadad die Edomiet uit die koninklike familie van Edom. Toe Dawid vroeër teen Edom geveg het, het Joab, die hoof van die leër, die gesneuweldes gaan begrawe nadat hy al die mans in Edom doodgemaak het. Dit het Joab en die hele Israel ses maande gekos om al die mans in Edom om die lewe te bring. Hadad en 'n aantal Edomitiese mans, almal uit die hofhouding van sy pa, het egter in die rigting van Egipte gevlug. Hadad was toe nog 'n jong seun. Hulle het deur Midian getrek tot in Paran. Van daar af het hulle 'n aantal mans met hulle saamgevat en verder getrek tot hulle in Egipte by die farao, die koning van Egipte, aangekom het. Dié het vir Hadad 'n huis gegee, hom van voedsel voorsien en aan hom 'n stuk grond toegeken.
Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy hom laat trou het met sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes. Sy het vir Hadad 'n seun in die wêreld gebring met die naam Genubat. Tagpenes het die seun in die farao se paleis versorg, waar hy saam met die farao se kinders grootgeword het.
Toe Hadad in Egipte verneem dat Dawid te sterwe gekom het en dat Joab, die hoof van die leër, ook dood was, het hy vir die farao gesê: “Laat my toe om na my land toe terug te gaan.”
Die farao sê toe vir hom: “Kom jy iets kort hier by my dat jy nou skielik na jou land toe wil teruggaan?”
“Nee,” sê hy, “maar laat my asseblief maar gaan.”
God het nog iemand teen Salomo in opstand laat kom: Reson seun van Eljada, 'n onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba wat vir die koning gevlug het.
Reson het 'n groep mans om hom versamel, en hy was die leier van die bende. In die tyd toe Dawid die Arameërs uitgeroei het, het hulle na Damaskus toe gevlug. Hulle het in Damaskus gaan woon en Reson daar tot koning uitgeroep. Hy was vyandig teen Israel solank Salomo geleef het. Dit was nog behalwe die kwaad wat Hadad gedoen het. Reson was koning van Aram en hy het Israel verafsku.
Daar was ook Jerobeam seun van Nebat, 'n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, 'n weduwee. Hy was 'n onderdaan van Salomo wat teen die koning in opstand gekom het. Dit het so gebeur: Salomo was besig om die terras te bou waarmee hy die opening in die muur van die Dawidstad toegemaak het. Jerobeam was 'n gesiene landsburger, en toe Salomo sien dat hy bekwaam is, het hy die toesig oor die dwangarbeid van die Josefstam aan hom opgedra.
Dit was in hierdie tyd dat Agija, 'n profeet uit Silo, vir Jerobeam op die pad buite Jerusalem teëgekom het. Agija het 'n nuwe mantel aangehad, en terwyl net hulle twee daar in die veld was, vat Agija die nuwe mantel wat hy aangehad het, skeur dit in twaalf stukke en sê vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want so sê die Here die God van Israel: So gaan Ek die koningskap afskeur van Salomo af. Ek gaan vir jou tien stamme gee; die orige stam sal syne bly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek tussen al die stamme van Israel uitgekies het. Maar Salomo het My verlaat en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy het nie meer geleef volgens my wil en gedoen wat reg is in my oë nie of my voorskrifte en bepalings nagekom soos sy vader Dawid gedoen het nie. Ek sal nogtans nie die hele koningskap van hom wegvat nie. Ek sal hom sy lewe lank koning laat bly ter wille van my dienaar Dawid wat Ek uitverkies het en wat hom aan my gebooie en voorskrifte gehou het, maar Ek gaan die koningskap van sy seun af wegvat. Ek gaan tien stamme vir jou gee en vir sy seun gaan Ek net een gee, sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek verkies het om my Naam daar te vestig.
“Ek gaan jou as koning aanstel, soos dit jou hartsbegeerte is. Jy sal oor Israel regeer. As jy gehoor gee aan alles wat Ek jou sal beveel, as jy jou lewe inrig volgens my wil, as jy doen wat reg is in my oë deurdat jy jou hou aan my voorskrifte en gebooie, soos my dienaar Dawid gedoen het, sal Ek by jou wees. Soos Ek Dawid se nageslag in stand hou, sal Ek joune ook in stand hou. Ek sal Israel aan jou gee en ter wille daarvan sal Ek die nageslag van Dawid verneder, maar nie vir altyd nie!”
Hierna wou Salomo vir Jerobeam om die lewe bring. Jerobeam het egter na Egipte toe gevlug waar hy onder beskerming van koning Sisak van Egipte gebly het tot Salomo se dood.