1 KONINGS 9:10-28

1 KONINGS 9:10-28 NLV

Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel van die HERE en die koninklike paleis te bou. Toe het hy twintig dorpe in Galilea as betaling vir Hiram van Tirus gegee vir al die sederhout, sipreshout en goud wat hy vir die bouprojek nodig gehad het. Hiram het uit Tirus kom kyk hoe die dorpe lyk wat Salomo vir hom gegee het, maar hy was nie daarmee tevrede nie. “Watter soort dorpe is dit wat jy vir my gegee het, my broer?” het hy gevra. “Hierdie dorpe is tog waardeloos!” Daarom word dit tot vandag toe Kabulstreek genoem. Hiram het meer as vier ton goud aan Salomo gelewer. Salomo het dwangarbeid gebruik om die volgende projekte te bou: die tempel van die HERE, die koninklike paleis, die terras en die muur van Jerusalem. Hy het ook die stede Hasor, Megiddo en Geser met hulle herbou. Die farao, koning van Egipte, het Geser verower, die Kanaänitiese inwoners doodgemaak en die stad verbrand. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter gegee toe sy met Salomo getrou het. Daarom het Salomo Geser herbou, asook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van Juda. Verder het hy voorraadstede gebou en stede waar sy strydwaens en berede mag gehuisves was. Hy het in Jerusalem, die Libanon en dwarsdeur sy hele ryk alles voltooi wat hy hom voorgeneem het om te bou. In die land was daar nog inwoners wat nie Israeliete was nie. Hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete. Hulle was die afstammelinge van die volke wat Israel nie volledig uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgekommandeer om dwangarbeid vir hom te doen. Dis vandag nog so. Salomo het egter geen Israeliet vir dwangarbeid gebruik nie. Hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy staatsamptenare, offisiere in sy leër, aanvoerders van sy strydwaens en sy berede magte. Verder het hy 550 van hulle as beamptes aangestel om toesig te hou oor al die verskillende projekte. Nadat die dogter van die farao uit die Dawidstad oorgetrek het na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het, het hy ook die terras gebou. Salomo het drie keer per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die HERE gebou het. Hy het ook wierookoffers vir die HERE gebrand. So het hy al sy verpligtings in die tempel nagekom. Koning Salomo het ook skepe gebou by Esjon-Geber, ’n hawe naby Elat aan die kus van die Rietsee in Edom. Hiram het ook vir hom skepe gestuur met gesoute bemanningslede. Hulle het saam met Salomo se matrose na Ofir gevaar en daar vir Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 KONINGS 9:10-28