Aan die einde van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue, die huis van die HERE en die koninklike paleis, gebou het, gee koning Salomo toe vir Hiram twintig dorpe in die landstreek Galilea. Hiram, die koning van Tirus, het immers vir Salomo bygestaan met sederhout en sipreshout en goud, soveel as wat hy wou hê. Hiram het uit Tirus vertrek om die dorpe te besigtig wat Salomo vir hom gegee het, maar in sy oë was dit nie goed genoeg nie. Hy het gesê: “Wat is hierdie dorpe wat jy vir my gegee het, my broer?” Hy het dit die gebied van Kabul genoem; dit is vandag nog so. Hiram het immers vir die koning 'n honderd-en-twintig kikkar goud gestuur.
Dít was die doel met die verpligte diens waartoe koning Salomo mense opgeroep het: om die huis van die HERE te bou, asook sy eie paleis, die terrasse, die stadsmuur van Jerusalem, Gasor, Megiddo en Geser. Die farao, die koning van Egipte, het voorheen opgetrek en Geser ingeneem. Hy het dit afgebrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee. Salomo het Geser herbou, ook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van die land, asook al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, die stede vir die strydwaens en die stede vir die perde, ja, wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het.
Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, wat nie deel was van die Israeliete nie – dit is nou hulle nageslag wat ná hulle oorgebly het in die land, en wat die Israeliete nie met die banvloek kon tref nie – het Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk, dit is vandag nog so. Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens nie, want hulle was krygsmanne, sy dienaars, bevelvoerders, adjudante en die •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. Hulle was ook die hoofopsigters wat in beheer was van Salomo se bouwerk – vyfhonderd-en-vyftig man wat bevel gevoer het oor die mense wat die werk moes doen.
Eers nadat die dogter van die farao uit die •Stad van Dawid opgegaan het na haar paleis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terrasse herbou.
Salomo het drie keer per jaar •brandoffers en •maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die HERE gebou het, en daarmee saam het hy wierook gebrand op die altaar wat voor die HERE was. Hy het ook die tempel in stand gehou.
Koning Salomo het 'n vloot opgebou by Es-jon-Geber wat by Elat is, aan die kus van die Rietsee in die gebied van Edom. Saam met Salomo se dienaars, het Hiram sy dienaars, skeepslui wat die see geken het, aan die vloot beskikbaar gestel. Hulle het na Ofir gegaan en van daar af goud gebring, vierhonderd-en-twintig kikkar en dit na koning Salomo geneem.