HANDELINGE 10:1-48

HANDELINGE 10:1-48 NLV

In Sesarea was daar ’n Romeinse weermagoffisier met die naam Kornelius, ’n offisier oor honderd man van die Italiaanse Regiment. Hy het toegewy aan die God van Israel geleef en het ontsag vir Hom gehad, hy en sy hele huishouding. Hy het baie bydraes vir die armes onder die Joodse volk gegee en hy het deurentyd tot God gebid. Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelius!” Kornelius het hom aangestaar en bang geword en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel het hom geantwoord: “Jou gebede en wat jy vir die armes doen, het God opgeval! Stuur daarom nou dadelik mans na Joppe toe en laat daar ’n sekere Simon haal. Sy noemnaam is Petrus. Hy is ’n gas by ’n ander Simon, ’n leerlooier. Sy huis is by die see.” Toe die engel wat met hom gepraat het, vertrek, het Kornelius twee van sy huiswerkers en een van sy lyfwagte, self ’n soldaat wat aan God toegewy geleef het, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, toe Kornelius se afvaardiging al naby die dorp was, het Petrus dakstoep toe gegaan om te bid. Dit was teen twaalfuur die middag, en hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle die ete klaarmaak, het hy in geestesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word en afkom grond toe. In die doek was allerhande diere, reptiele en voëls. ’n Stem sê toe vir hom: “Staan op, Petrus! Slag en eet!” “Nooit nie, Here!” het Petrus gesê. “Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie.” Toe kom die stem weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek. Petrus was verdwaas. Wat kon die gesig tog beteken? Juis op daardie stadium kry die mans wat deur Kornelius gestuur is, die huis en hulle staan by die voordeur. Hulle was op soek na die huis van Simon en vra toe of Simon met die noemnaam Petrus daar ’n gas is. Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, het die Gees vir hom gesê: “Hier is drie mans wat jou soek. Gaan ondertoe en moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ék het hulle gestuur.” Petrus het toe ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.” Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan. Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep. Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en ge-sê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!” En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is. Petrus sê toe vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk kontak mag hê of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.” Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie! Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’ So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.” Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie. In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is. Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig, maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn, nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ont-vang.” Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is. Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing. Petrus het toe gesê: “Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.