Daar was 'n man in Caesarea bekend as Cornelius, 'n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid. Hy het teen die negende uur van die dag in 'n visioen duidelik 'n engel van God na hom sien binnekom wat vir hom sê: “Cornelius!” Hy het stip na hom gestaar en beangs gevra: “Wat is dit, Meneer?” Toe antwoord hy hom: “Jou gebede en jou liefdadigheid het tot 'n gedenkoffer voor God opgestyg. Stuur dan nou mans na Joppe om iemand met die naam Simon, ook bekend as •Petrus, te gaan haal. Hy gaan tuis by 'n sekere Simon, die leerlooier, wie se huis langs die see staan.” Toe die engel wat met hom gepraat het weg is, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n godvresende soldaat, een van hulle wat hom dien, en nadat hy hulle alles vertel het, stuur hy hulle na Joppe.
Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie. ” Maar die stem het weer, 'n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem.
Petrus was nog aan die twyfel oor wat die visioen wat hy gesien het, kon beteken, toe die mans wat deur Cornelius gestuur is, skielik by die poort aankom, nadat hulle oor Simon se huis navraag gedoen het. Hulle roep toe en vra of Simon, ook bekend as Petrus, daar tuisgaan. Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.” En Petrus het afgeklim na die mans en gesê: “Kyk, dit is vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” En hulle het geantwoord: “Cornelius, die centurio, 'n regverdige en godvresende man, iemand oor wie die hele Joodse volk goeie getuienis gelewer het, het deur 'n heilige engel 'n openbaring ontvang om u na sy huis te laat kom en te luister na u woorde.” Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom.
En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel. Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net 'n mens. ” En terwyl hy met hom praat, het hy na binne gegaan en daar baie mense bymekaar aangetref. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir 'n Joodse man verbode is om met iemand van 'n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder huiwering gekom toe ek ontbied is. Nou vra ek, waarom het julle my ontbied?” Cornelius antwoord toe: “Vier dae gelede was ek teen hierdie tyd, op die negende uur, besig om in my huis te bid. Opeens staan daar toe 'n man in 'n stralende gewaad voor my en sê, ‘Cornelius, jou gebed is verhoor en jou liefdadigheid het voor God in herinnering gekom. Stuur dan iemand na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy is 'n gas van Simon, die leerlooier, by 'n huis langs die see. ’ Ek het toe onmiddellik mense na u gestuur, en dit is goed dat u gekom het. Hier is ons nou almal in die teenwoordigheid van God aanwesig om alles te hoor wat deur die Here aan u opgedra is.”
Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense. Julle weet wat dwarsdeur Judea gebeur het – dit het begin in Galilea, ná die doop wat Johannes verkondig het – hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Hy het die land deurreis, goed gedoen en almal wat onder die mag van die Duiwel was, genees, omdat God met Hom was. Ons is getuies van alles wat Hy in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Maar hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Vir Hom het God op die derde dag opgewek, en beskik dat Hy verskyn – nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat vroeër reeds deur God aangewys is – aan ons wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dood opgestaan het. En Hy het ons beveel om aan die volk te verkondig en kragtig te getuig dat dit Hy is wat deur God aangewys is as Regter oor die lewendes en die dooies. Oor Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang.”
Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal. Die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met •Petrus gekom het, was uiters verbaas dat die gawe van die Heilige Gees selfs op die heidene uitgestort is. Hulle het immers gehoor hoe hulle in tale spreek en God loof. Toe sê Petrus: “Niemand kan tog verhinder dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, met water gedoop word nie?” En hy het opdrag gegee dat hulle in die Naam van Jesus •Christus gedoop word. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae aan te bly.