KOLOSSENSE 3:5-15

KOLOSSENSE 3:5-15 NLV

Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak. Dit is oor sulke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref. Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl. Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie. Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk. In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is. Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar.