JAKOBUS 2:1-26

JAKOBUS 2:1-26 NLV

My broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer? Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet. As julle dan ’n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom: “U moet asseblief hier gemaklik kom sit,” maar vir die arm man sê julle: “Jy kan maar daar anderkant gaan sit,” of: “Kom sit hier op die vloer,” sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie? Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie? Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders. Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree. Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat getrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree. Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van liefde. Wie sonder ontferming optree, sal sonder ontferming geoordeel word. God se ontferming is sterker as sy oordeel. My broers en susters, wat help dit as ’n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie? Só ’n geloof kan jou nie verlos nie. Sê nou jy sien ’n Christenbroer of -suster wat kos en klere nodig het, en jy sê: “Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,” maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan? Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks. Maar iemand sou kon redeneer: “Party mense het geloof, en ander het dade.” Ek sê: “Wys my jou geloof wat sonder dade is. Maar juis uit my dade sal ek jou my geloof wys.” Jy glo dat daar net een God is. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle! Jou dwaas! Soek jy ’n bewys dat geloof sonder dade dood is? Ons voorvader Abraham se geloof het dade geword: Hy het sy seun Isak op die altaar gelê en God het hom vrygespreek. Jy sien dus dat sy geloof gepaardgegaan het met sy dade, en die geloof uit die dade volmaak geword het. Dit het dus presies gebeur soos dit in die Skrif staan: “Abraham het tot geloof in God gekom, en God het hom vrygespreek.” Hy is selfs “vriend van God” genoem. Julle sien dus dat ’n mens óók op grond van sy dade vrygespreek word en nie net op grond van sy geloof nie. Ragab die prostituut is nog ’n voorbeeld. God het haar vrygespreek op grond van haar dade toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat wegkom het. ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is ’n lyk. So is geloof wat nie dade word nie, ook dood.